Nuus 14:00
BULLETIN 14 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevestig ondersoeke na die aankoms van Palestynse vlugtelinge
# Uiterse weerstoestande word die naweek in meeste dele van die land verwag
# En krieket: Suid-Afrika se kolforde stort in duie in die eerste toets teen Indië
# President Cyril Ramaphosa sê daar word ondersoek ingestel na die saak van 153 Palestynse vlugtelinge wat na Suid-Afrika gebring is. Die vlugtelinge het gister meer as 12 uur op ‘n vliegtuig op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng gesit voordat hulle die gebou kon binnegaan. Ramaphosa het in Kliptown, Soweto, gesê Binnelandse Sake, Internasionale Betrekkinge en intelligensie-agentskappe ondersoek hulle oorsprong en dokumente. Hy het bevestig ‘n aankondiging sal volg sodra die saak behoorlik geëvalueer is:
Ramaphosa sê ook hy sal die G20-presidentskap aan die Amerikaanse afvaardiging oorhandig, selfs al beteken dit die dokumente word op ‘n leë stoel geplaas indien president Donald Trump of ander Amerikaanse verteenwoordigers nie opdaag vir volgende naweek se leiersberaad in Johannesburg nie. Hy het Suid-Afrika se verbintenis tot voortgesette betrokkenheid by Amerika beklemtoon. Hy sê die land is ‘n belangrike handelsvennoot ondanks onlangse diplomatieke spanning:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel die meeste dele van die land gaan hierdie naweek uiterste weer beleef. Dis weens ‘n intense weerstelsel en ‘n laedruk afsnystelsel wat die land na verwagting van môre tot Maandag sal beïnvloed. Woordvoerder André Fourie sê ‘n geel vlak vier-waarskuwing is in KwaZulu-Natal uitgereik met hewige donderstorms en swaar reën wat verwag word. Hy sê vyf provinsies, insluitend Gauteng en Mpumalanga, is onder ‘n geel waarskuwing:
Nuus uit die buiteland:
# President Volodimir Zelensky het soldate naby Oekraïne se suidoostelike front gewaarsku oor die noodsaak om linies te versterk nadat hulle grondgebied verloor het in toenemende hoë-intensiteit-gevegte teen Rusland. Hy sê die situasie naby Orikhiv is van die ergstes en Russiese magte moet daar gekeer word om die stad Zaporizhzhia te beskerm. Nie een van die twee het tot dusver groot deurbrake gemaak sedert Rusland se inval in 2022 nie. Russiese magte, wat 19-persent van Oekraïne beheer, is sedert laat in 2023 op die aanval en beweeg geleidelik vorentoe.
# Krieket: Suid-Afrika se kolforde het in duie gestort op die eerste dag van die eerste toets teen Indië op Eden Gardens in Kolkata en hulle is vir ‘n skrale 159 uitgeboul. Die Proteas het die loot gewen en verkies om te kolf, en was op 57 sonder verlies voor Jasprit Bumrah met sy verwoestende aanval begin het. Hy het eers die aanvangskolwers Aiden Markram en Ryan Rickelton pawiljoen toe gestuur het en toe geëindig met uitstekende syfers van vyf vir 27. Markram se 31 was die hoogste telling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-17-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….