Nuus 14:00
BULLETIN 13 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Chinese premier gaan die G20-beraad bywoon
# DA eis aanspreeklikheid oor 17 Suid-Afrikaanse huursoldate in die Oekraïns-Russiese oorlog
# En sokker: Zambië sê Bafana onderskat hulle voor Saterdag se kragmeting in Gqeberha
# China se Ministerie van Buitelandse Sake het aangekondig premier Li Qiang gaan volgende naweek die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon. ‘n Woordvoerder sê Li sal ook Maandag en Dinsdag ‘n geleentheid van die Sjanghai-samewerkingsorganisasie in Rusland bywoon, en Zambië Woensdag en Donderdag besoek. Hy sê Li se teewoordigheid op die G20-beraad beklemtoon China se verbintenis tot multilateralisme en sy betrokkenheid by die G20, wat fokus op belangrike kwessies rondom die wêreldekonomie.
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedrick Nkabinde, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy is in 2018 uit die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat geskors nadat hy die destydse uitvoerende direkteur, Robert McBride, en die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan verkla het. Nkabinde beweer sy verslag aan die gewese minister van Polisie, Bheki Cele, is aan McBride uitgelek, wat hom daarna geskors het. Hy sê die aanklagte is later teruggetrek toe hy na ‘n vertroulike skikkingsooreenkoms bedank het:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering versterk vennootskappe om ekonomiese groei te bevorder deur programme soos die Strategiese Vennootskapsprogram en die Regering se Sakevennootskap. Hy het virtueel gepraat tydens die Tuinroete se Ekonomiese Koördinerings-rondetafeldialoog in Knysna in die Wes-Kaap. Mashatile sê hierdie projekte benut privaat beleggings om infrastruktuur, jeug-werkverskaffing en doeltreffendheid te bevorder. Hy prys die iThuba-ontwikkelingsprojek van 200-miljard-rand as ‘n katalisator vir inklusiewe groei en volhoubare gemeenskapsverandering:
# Die DA eis aanspreeklikheid oor hoe 17 Suid-Afrikaanse mans met werk-beloftes gelok is om by huursoldaatmagte aan te sluit in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die mans was blykbaar onder die indruk hulle gaan wettige opleiding kry of sekerheidswerk doen, maar is gedwing om vir Rusland te veg in die Donbas-streek in Oekraïne. Chris Hattingh van die DA sê die Staatsveiligheidsagentskap en Verdediging-intelligensie moet verduidelik hoe hierdie werwings in Suid-Afrika kon plaasvind sonder om bespeur te word:
# Sokker: Zambië se afrigter, Moses Sichone, beskuldig Bafana Bafana dat hulle die besoekers onderskat voor Saterdag se internasionale vriendskaplike wedstryd in Gqeberha. Suid-Afrika gebruik die ontmoeting om voor te berei vir die Afrikabekertoernooi wat die 21ste van volgende maand in Marokko begin. Sichone het reageer op sommige Suid-Afrikaanse sokkerkringe wat voorstel Bafana Bafana sou meer gebaat het met sterk teenstand soos Brasilië. Hy het beloof om die gasheer verkeerd te bewys. Sichone sê Zambië neem die wedstryd baie ernstig op en hoop om ‘n positiewe uitslag te kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-921-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-228-dollar-129-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….