Nuus 14:00
BULLETIN 10 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se dogter pleit onskuldig in die Hooggeregshof in Durban
# Die Khampepe-kommissie se openbare verhore word tot 26 November uitgestel
# En agt mense sterf in ‘n ongeluk op die N2 naby Scottburgh in KwaZulu-Natal
# Oud-president Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het onskuldig gepleit met die aanvang van haar verhoor in die Hooggeregshof in Durban. Sy staan tereg op aanklagte van aanhitsing tot terrorisme en openbare geweld oor sosiale media-plasings tydens die onrus in Julie 2021 na haar pa tronk toe is vir minagting van die hof. Die verhoor sal na verwagting tot die 21ste duur, met ses getuies, waaronder drie sosiale media-kundiges. Zuma-Sambudla hou vol die aanklagte is polities gemotiveerd.
# Die openbare verhore van die Khampepe-kommissie van ondersoek is tot die 26ste van die maand uitgestel om mondelinge voorleggings oor die aansoek om onttrekking van senior advokaat Ishmael Semenya toe te laat. Die stap volg op prosedurele geskille rondom die lei van getuienis en die rol van getuienisleiers teenoor partye se regsverteenwoordiging. Die kommissie sou vandag begin met sy verhore oor beweerde politieke inmenging in vervolgings wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie aanbeveel is. Die Khampepe-kommissie het ses maande om sy verrigtinge af te handel.
# Die afgetrede adjunkhoof van die Ekurhuleni Mtropolisie, Revo Spies, sê ‘n ooreenkoms tussen Medicare 24 EMS en Anubis-beskermingsdienste in 2021 is onderteken deur die EMPD se adjunkhoof, Julius Mkhwanazi. Spies het aan die Madlanga-kommissie gesê die ooreenkoms, waarvolgens privaat maatskappye toegelaat is om voertuie onder die EMPD te registreer en polisieligte te gebruik, was verkeerd. Hy sê die ooreenkoms het gevaarligte laat afgaan wat tot dissiplinêre ondersoeke gelei het:
# Agt mense is dood in ‘n laatnag-botsing op die N2 naby die Scottburgh-afrit in KwaZulu-Natal. Vyf van die slagoffers was kinders. Volgens Arrive Alive het ‘n ligte voertuig van agter teen ‘n vragmotor gebots, met twee mense in ‘n bedenklike toestand. Die owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
# Rugby: Wallis se kaptein, Jac Morgan, gaan die res van die Herfsnasiesreeks misloop nadat hy sy skouer ontwrig het in gister se rekordnederlaag van 52-28 teen Argentinië in Cardiff. Die voormalige kaptein Dewi Lake sal die kapteinskap oorneem, terwyl Tommy Reffell en Harri Deaves oorweeg word om Morgan te vervang. Wallis se nuwe hoofafrigter, Steve Tandy, sê Morgan se besering is ‘n groot terugslag vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-65-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-78-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….