Nuus 14:00
BULLETIN 7 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bevestiging Malusi Gigaba is nie in hegtenis geneem nie, maar die Transnet-ondersoek is ter sprake
# Tesla se aandeelhouers keur ‘n reuse-vergoedingspakket vir Elon Musk goed
# En krieket: Cummins hoop om terug te wees vir die tweede toets om die As teen Engeland
# Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het bevestig die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, is nie in hegtenis geneem nie. Hy is vanoggend na ‘n polisiestasie in Pretoria ontbied oor beweerde onreëlmatighede in Transnet se verkrygingsprosesse tydens sy ampstermyn van 2010 tot 2014. Die presiese aanklagte is steeds onduidelik, maar Gigaba sê hy sal ten volle saamwerk en sy gewete is skoon. Die woordvoerder van die direktoraat, Henry Mamothame, sê die ondersoeke duur voort:
Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, weet intussen nog nie wanneer hy voor die Madlanga-kommissie moet verskyn nie. Sy woordvoerder, Sthembiso Mshengu, het aan Newzroom Afrika gesê Mchunu, wat reeds voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig het, sal steeds voorberei vir sy getuienis al is sy elektroniese toestelle gisteraand in beslag geneem toe die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde toegeslaan het op sy huis in Pretoria. Hy sê die beslaglegging sal Mchunu se voorbereiding beïnvloed:
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het inwoners gewaarsku oor die toename in malariagevalle in die provinsie. Ekurhuleni is een van die distrikte in die provinsie met die hoogste aantal gevalle, met 25 per 100-duisend mense tussen Januarie 2022 en Desember verlede jaar. Die toename word hoofsaaklik toegeskryf aan reise na endemiese gebiede soos Limpopo, Mpumalanga, Mosambiek, Zimbabwe en Malawi gedurende die feestyd en Paasseisoen. Nkomo-Ralehoko sê inwoners moet dadelik mediese hulp soek as hulle simptome toon nadat hulle hoërisiko-gebiede besoek het.
# Aandeelhouers van die elektriese motor-vervaardiger Tesla het ‘n rekord-vergoedingspakket van meer as 17-duisend-miljard-rand goedgekeur vir uitvoerende hoof Elon Musk. Dis die grootste korporatiewe vergoeding in die geskiedenis. Meer as 75-persent van aandeelhouers het ten gunste van die ongekende pakket gestem. Dit sal bestaan uit 12 dele aandele en kan Musk beheer gee oor 25-persent van Tesla indien hy sekere mylpale behaal. Dit sluit in dat die maatskappy se mark-kapitalisering oor die volgende dekade uitbrei.
Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, hoop om fiks te wees vir die tweede toets om die As teen Engeland wat op 4 Desember in Brisbane begin. ‘n Langdurige laerug-probleem sal hom die eerste wedstryd laat misloop wat die 21ste van die maand in Perth begin. Scott Boland sal hom na verwagting vir die openingswedstryd vervang. Dit sal die eerste keer wees dat die snelbouler nie in ‘n toets om die As speel nie sedert hy sy buiging in 2017 gemaak het in die eerste toets teen Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-648-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-6-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….