Nuus 14:00
BULLETIN 5 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog opspraakwekkende getuienis voor die Madlanga-kommissie
# ‘n Toename in ingevoerde suiker bedreig Suid-Afrika se suikerrietbedryf
# En Rusland sê Oekraïnse soldate in twee omsingelde stede moet oorgee en hulself red
# Die nasionale adjunk-kommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, is daarvan beskuldig dat hy ‘n vals beëdigde verklaring vir die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala opgestel het na ‘n klopjag by sy huis. Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het aan die Madlanga-kommissie gesê die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, sê Matlala het hom genader. Khumalo sê Cele beweer Sibiya het Matlala aangeraai om te beweer ‘n Rolex, ‘n vrouehorlosie en ‘n skootrekenaar is geneem, wat Khumalo en sy span by diefstal betrek:
# Die GOOD-party is teleurgesteld oor die George-munisipaliteit se besluit om sy skadevergoedings-eis van byna tien-miljoen-rand teen die eienaars van die ingestorte gebou in Victoriastraat terug te trek. Altesaam 34 werkers is dood toe die gebou verlede jaar ingetuimel het. Die perseel gaan later dié maand opgeveil word sodat likwidateurs geld van die eienaars kan verhaal. Chantelle Kyd van GOOD sê dis duidelik dat aanspreeklikheid opsioneel is wanneer dit kom by eiendoms-eienaars wat magtig is of bande met hooggeplaastes het:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers is bekommerd oor ‘n toename van 400-persent in ingevoerde suiker en waarsku dit kan plaaslike verkope verwoes en duisende landelike werksgeleenthede in KwaZulu-Natal en Mpumalanga bedreig. Plaaslike suikerverkope het op ‘n jaargrondslag met 13-persent gedaal, wat ‘n verlies van 100-duisend ton verteenwoordig. Die organisasie gee gesubsidieerde invoere uit lande soos Brasilië die skuld vir die verwringing van pryse. Die liggaam vra die regering om handelsbeskerming te versterk en die suikerbelasting te skrap ten einde die sukkelende plaaslike bedryf te beskerm.
# Rusland sê Oekraïnse soldate in Pokrovsk en Kupiansk is omsingel en moet hulself oorgee, anders sal hulle nie oorleef nie. Rusland probeer sedert verlede jaar om Pokrovsk te verower as deel van ‘n poging om die hele Donbas-streek te beset. Oekraïnse magte beheer steeds ongeveer tien-persent van die streek, gelykstaande aan sowat vyf-duisend vierkante kilometer. Rusland se Ministerie van Verdediging het Maandag die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, se verklaring weerspreek dat Oekraïnse magte probeer het om volgens hom slegs 60 Russiese soldate uit Kupiansk te verdryf.
# Krieket: Australië het drie spelers sonder toetservaring aangewys vir die eerste toets om die As teen Engeland wat die 21ste in Perth begin. Die aanvangskolwer Jake Weatherald en die snelboulers Sean Abbott en Brendan Doggett kan hul buiging maak. Marnus Labuschagne is teruggeroep, terwyl die veelsydige Mitch Marsh en Matt Renshaw oor die hoof gesien is. Steve Smith voer die span aan in die plek van die beseerde Pat Cummins. Hoofkeurder George Bailey het vertroue in Weatherald:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-716-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-964-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….