Nuus 14:00
BULLETIN 6 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane monitor die vordering met sake wat verband hou met ‘n onwettige staking
# Skoolbeheerliggame word gevra om skole te ondersteun te midde van kommer oor dissipline en geweld
# En, atletiek: Die Suid-Afrikaanse mans-aflosspan kwalifiseer vir die Olimpiese Spele nadat Amerika in die Bahamas oorheers
# Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen,sê die stad monitor aktief 47 strafregtelike sake wat verband hou met verlede jaar se onwettige staking. Hy sê die stad is vasberade om aandag te gee aan die saak en vra deeglike ondersoeke. Theunissen beklemtoon gevolge vir dié wat uitgeken word en vra spoedige regsoptrede teen aanhitsers:
# Gauteng se LUR van Onderwys, Matome Chiloane, vra skoolbeheerliggame om ‘n groter ondersteuningsrol te speel. Dit volg te midde van kommer oor dissipline en geweld ná ʼn onlangse voorval by die Glenvista High School in Johannesburg. ʼn Onderwyser en ʼn leerder was in klastyd in ʼn fisiese onderonsie betrokke en dis op kamera vasgelê. Chiloane beklemtoon die behoefte om sulke probleme met skoolbeheerliggame se ondersteuning aan te pak:
# Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad en ander gesondheidsreguleerders tree op teen die kommerwekkende misbruik van kodeïne. Dit is veral algemeen onder jongmense. Maatreëls word nou ingestel om die verkoop van medisyne wat kodeïne bevat streng te reguleer. Dit verplig apteke en ander uitreikers van medisyne om digitaal die identiteitsnommers van klante aan te teken wat middels met kodeïne ontvang. Die woordvoerder Madimetja Mashishi beklemtoon die belangrikheid van die veldtog om gedrag teen te werk soos mense wat kodeïne wil misbruik en dit dan by verskeie apteke koop.
# Indië het sy vyf-maande lange verbod op uie-uitvoer opgehef, maar dit vervang met ‘n heffing van 40-persent op uitvoere. Die verbod, waaroor uie-boere in Maharashtra beswaar gemaak het weens ‘n verlies aan inkomste, is opgehef ná samesprekings en voorraad-beoordeling. Die minister van Verbruikersake, Nidhi Khare, verduidelik globale voorraadtekorte en droogtes weens die El Nino-verskynsel het gelei tot die aanvanklike uitvoerbeperkings. Markdeelnemers voel egter die opheffing van die verbod sal dalk nie handelaars veel bevoordeel nie.
# Atletiek: Suid-Afrika se vier-maal-400-meter aflosspan het gekwalifiseer vir die Olimpiese Spele tydens die Wêreld-afloskampioenskap in die Bahamas, wat oorheers is deur Amerika. Die Verenigde State het vier uit die vyf goue medaljes gewen. Wayde van Niekerk het Suid-Afrika gehelp om silwer in hulle item te wen, saam met Gardeo Isaacs, Zakithi Nene en Lythe Pillay. Botswana het goud gekry nadat die Amerikaners gediskwalifiseer is, met België derde. Van Niekerk is bly hy kon ‘n bydrae lewer:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-169-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….