Nuus 14:00
BULLETIN 31 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank se president beklemtoon die inflasie-wanbalans in Suid-Afrika
# Die Parlement eis ‘n volledige verslag oor die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se hospitaal-suurstoftender
# En Pukke vereer Hans Strydom en ander bekendes
# Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika het in Julie 2022 ‘n skerp inflasie-wanverhouding ondervind. Hy het in ‘n onderhoud met CNBC Africa gesê laerinkomste-verdieners het 9,8-persent inflasie ervaar vergeleke met 4,9-persent vir die rykes. Kganyago het beklemtoon hoe ongelykheid vererger namate stygende pryse laerinkomste-huishoudings die swaarste tref. Hy waarsku om inflasie te ignoreer beteken dat die rykes bo die armes gestel word:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur het minister Dean Macpherson gevra om ‘n volledige forensiese verslag oor die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se hospitaal-suurstoftender in te dien. Die voorsitter, Carol Phiri, het aan SABC News gesê die komitee het die opsommingsverslag verwerp wat hierdie week ter tafel gelê is. Sy dring daarop aan dat die Parlement die volledige dokument benodig om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te verseker met die hantering van die omstrede tender:
Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het intussen eenparig besluit om die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, te dagvaar ná herhaalde pogings om te verseker hy verskyn vrywillig voor die komitee. Voorsitter Songezo Zibi sê hy gaan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, vra of sy daarmee saamstem. Hy sê Letsoalo beskik oor inligting waarna die komitee op soek is en dit kan nie op ander maniere bekom word nie:
# Rugby: Caelan Doris is met sy terugkeer na Ierland se span op die bank vir môreaand se wedstryd teen Nieu-Seeland in Chicago, met Dan Sheehan as kaptein. Iain Henderson, Bundee Aki en Sam Prendergast is ook op die bank. Jack Crowley begin op losskakel ten koste van Prendergast, met Jamison Gibson-Park sy skakelmaat. Dit sal die tweede keer wees dat die lande kragte meet op Soldier Field in Amerika, waar Ierland in 2016 ‘n geskiedkundige eerste oorwinning oor die All Blacks behaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-en-88-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-11-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-88-sent per vat.
# En laastens, die Noordwes-Universiteit het tien merkwaardige persone vereer tydens sy toonaangewende tweejaarlikse Alumni Uitnemendheids-toekenningseremonie in Pretoria. Persone soos die veteraan-akteur Hans Strydom, die Wêreldbeker-krieketster Tazmin Brits en die mediese ekonoom James Avoka Asamani is vereer. Strydom het die Lewensprestasie-toekenning ontvang vir sy baanbreker-bydrae tot Suid-Afrikaanse televisie en rolprente, asook sy onvermoeide voorspraak vir die regte van uitvoerende kunstenaars. Die universiteit sê almal wat vereer is, het ‘n blywende indruk in hul onderskeie velde gelaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….