Nuus 14:00
BULLETIN 23 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# WhatsApp-gesprekke dui op voortdurende oorbetalings tussen ‘n polisie-generaal en Cat Matlala
# Bheki Cele sê polisie-ingryping het 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi gered
# En die People’s Movement For Change eis strafregtelike klagte teen Milnerton High School se ‘boelies’
# WhatsApp-gesprekke wat as bewysstukke by die Madlanga-kommissie ingedien is, dui op voortdurende oorbetalings tussen Richard Shibiri van die polisie-eenheid vir georganiseerde misdaad en die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala, wat van poging tot moord aangekla word. Getuie B het aan die kommissie gesê ondersoekbeamptes was glo geskok om die noue verbintenis tussen die twee te ontdek, insluitend stemboodskappe wat van Desember verlede jaar tot Mei vanjaar strek:
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, het onthul dat Suid-Afrika amper sy gasheerregte vir 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi verloor het weens veiligheidsredes. Hy het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê Australië en Duitsland was bereid om as gashere oor te neem. Cele sê hy het ‘n span polisie-generaals bymekaargemaak en na Zürich gereis om FIFA te oortuig dat Suid-Afrika gereed is. Hy sê hierdie voorlegging het verseker dat die toernooi in Suid-Afrika voortaan:
# Die People’s Movement for Change het sy woede uitgespreek na die aanranding op ‘n 16-jarige leerder van Milnerton High School in Kaapstad. Op ʼn video kan gesien word hoe ʼn groep leerders by die skool die graad 10-leerder wreed aanrand. Die groep sluit volgens berigte lede van die skool se eerste rugbyspan in. Voorlopige skorsingsbriewe is uitgereik aan agt van die leerders wat vermoedelik by die voorval betrokke was. Die beweging se hoof, Grant Harmse, sê dit was nie ʼn skoolvoorval nie, dit was ʼn misdaad:
# Die UDM is ontsteld oor berigte van studente wat dobbel met geld vanuit hul Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente-toelaes. Die UDM se waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, sê jong Suid-Afrikaners wat toevertrou is met openbare fondse wat veronderstel is om vir kos, verblyf en studiemateriaal te betaal, gebruik dit om aanlyn te dobbel. Sy sê universiteite en NSFAS kan nie aanhou stilbly terwyl studente verteer word deur die einste stelsel wat hulle uit armoede moet lig nie:
# Sokker: Mohamed Salah van Liverpool en Achraf Hakimi van Paris Saint-Germain is onder tien sterre wat benoem is vir 2025 se Afrika-Speler van die Jaar-toekenning. Salah was vierde en Hakimi sesde in die 2025 Ballon d’Or en is die gunstelinge vir die Afrika-toekenning. Benewens Salah, is twee ander Premierliga aanspraakmakers ook benoem, naamlik die middelveldspeler Pape Matar van Tottenham Hotspur en Everton doelskieter Iliman Ndiaye, albei Senegalese. Daar is twee benoemdes uit Afrika, die Kongolees Fiston Mayele van die Egiptiese klub Pyramids, en Oussama Lamlioui van die Marokkaanse span Renaissance Berkane.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-653-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-117-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….