Nuus 14:00
BULLETIN 17 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu erken hy het nie sy kabinetskollegas geraadpleeg oor die ontbinding van die politieke moorde-taakspan nie
# Vordering word gemaak met die SABC se nuwe befondsingsmodel
# En Tafelberg en sy sweefspoor word benoem vir twee wêreldtitels op 2025 se Wêreldreistoekennings
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê hy het nie sy kabinetskollegas geraadpleeg voor hy opdrag gegee het vir die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde nie. Volgens Mchunu het veiligheidskwessies wat deur verklikkers geopper is, hom verhinder om die saak regstreeks met die betrokke beamptes te bespreek. Hy sê sy besluit was wettig en daarop gemik om wetstoepassing te verbeter sonder om funksies binne die polisiestruktuur te dupliseer:
# President Cyril Ramaphosa sê die sewende Maatskaplike Geregtigheidsberaad, met die tema “Maatskaplike Geregtigheid, Voedselsekerheid en Vrede”, kom op ‘n kritieke tyd. Ramaphosa het dit by die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid beskryf as ‘n proses wat billike welvaart- en geleentheidsverdeling verseker. Hy sê die tema van die beraad stem ooreen met Suid-Afrika se 2030 Nasionale Ontwikkelingsplan, wat daarop gemik is om maatskaplike geregtigheid te bevorder, armoede uit te skakel en ongelykheid te verminder:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het bevestig daar is bestendige vordering met die ontwikkeling van die SABC se nuwe befondsingsmodel. Die proses, gelei deur die tegnologie-firma BMIT, sluit voortgesette betrokkenheid van belanghebbendes in om die openbare uitsaaier se finansiële raamwerk te vorm. Malatsi het aan SABC News gesê die werk kan oor die feesgety voortgesit word, met moontlike tydlyn-aanpassings wat oorweeg word, verkieslik sonder koste, om ‘n volhoubare model vir die SABC te verseker:
# Rugby: Die Bulle skop Suid-Afrika se deelname aan die vierde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen vanaand teen Connacht in Galway, Ierland, af. Môre verwelkom die Leeus die Walliese span Llanelli Scarlets in Johannesburg, en die Haaie meet in Durban kragte met die Ierse span Ulster. Die Stormers speel later teen Zebre in Italië. Die onoorwonne Stormers is tans bo-aan die punteleer, met die Bulle in die sesde plek. Die Haaie is 13de en die Leeus 15de.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-340-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-21-sent per vat.
# En laastens, Tafelberg en sy beroemde sweefspoor is benoem vir twee wêreldtitels op vanjaar se Wêreld-reistoekennings. Tafelberg is benoem in die kategorie as die wêreld se voorste toeriste-trekpleister en die sweefspoor vir die wêreld se voorste sweefspoor-rit. Hulle is die enigste Suid-Afrikaanse benoemdes vanjaar. Die besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoormaatskappy, Wahida Paker, moedig Suid-Afrikaners aan om teen die spertyd van 26 Oktober te stem vir die sweefspoor, wat 96-jaar en meer as 32-miljoen besoekers vier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….