Nuus 14:00
BULLETIN 7 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Familiewoordvoerder besigtig Nathi Mthethwa se liggaam voor repatriasie
# Die Suid-Afrikaanse regering bevestig die aankoms van die flottielje-aktiviste in Jordanië
# En die Britse eerste minister sê vandag se beplande pro-Palestynse betoging is oneerbiedig
# Die woordvoerder van die familie van die ontslape ambassadeur Nathi Mthethwa, Sfiso Buthelezi, het bevestig hy het sy liggaam in die lykshuis besigtig voor repatriasie. Mthethwa is verlede week dood toe hy volgens berigte van die 22ste verdieping van die Hyatt Regency Hotel in Parys geval het. Sy oorskot sal na verwagting Donderdag uit Frankryk vertrek en Vrydag in Suid-Afrika aankom. Buthelezi het voorheen bevestig ‘n kulturele ritueel sal ook uitgevoer word om sy gees te kom haal:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het die veilige aankoms van die Global Sumud-flottielje se aktiviste in Jordanië aangekondig. Hy sê die Suid-Afrikaanse ambassadeur, Tselane Mokuena, was teenwoordig om die afvaardiging namens die land te ontvang. Lamola herbevestig die regering se opregte dankbaarheid aan alle belanghebbendes wat bygedra het tot die suksesvolle uitkoms deur hulle samewerking en ondersteuning. Hy sê daar word verwag dat die afvaardiging môreoggend op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng sal land:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het studente versoek om die beplande pro-Palestynse betoging vir die tweede herdenking van Hamas se aanval in Israel op 7 Oktober 2023 te laat vaar, en noem dit oneerbiedig. Studente van verskeie Londense universiteite sou vanmiddag by hul klasse uitgestap het om na die middestad van die Britse hoofstad op te ruk. Verdere betogings of geleenthede soos nagwake, is ook in ander Britse stede beplan, waaronder Edinburgh, Glasgow, Sheffield en Manchester, waar twee mense Donderdag dood is in ‘n aanval voor ‘n sinagoge.
# Rugby: Die All Blacks-losskakel, Beauden Barrett, behoort fiks te wees om in November na die noordelike halfrond te reis nadat hy van ‘n skouerbesering herstel het. Die stut Ethan de Groot en vleuel Caleb Clarke is ook terug van beserings, maar die veelsydige voorspeler Tupou Vaa’I, die vleuel Emoni Narawa, die skrumskakel Noah Hotham en die stut Tyrel Lomax is nie beskikbaar vir die toer nie. Nieu-Seeland speel op 1 November in Chicago teen Ierland, gevolg deur toetse teen Skotland, Engeland en Wallis in Europa.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-360-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-956-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-23-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is een van TimeOut se 20 beste plekke om tussen Oktober en Februarie te besoek. Dit is omdat lande in die Noordelike Halfrond in dié tyd kouer weer ervaar. Sharm-el-Sjeik in Egipte, bekend vir sy turkoois water en wolklose blou hemel feitlik heeljaar, is boaan die lys. Namibië is tweede, gevolg deur Ciprus, Bali in Indonesië en Alicante in Spanje. Kaapstad is 17de op die lys danksy sy ryk natuurskoon, strande en blou lug in die somer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….