Nuus 14:00
BULLETIN 6 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mandela-koningshuis vra die vrylating van die flottielje-gevangenes
# Johannesburg se kredietuitsig is hersien van negatief na bestendig
# En sokker: Suid-Afrika dring deur na die uitspeelrondes van die onder 20-Wêreldbekertoernooi
# Die Mandela-koningshuis vra die onvoorwaardelike vrylating van alle Global Sumud-flottielje-gevangenes, insluitend Mandla Mandela. Israelse magte hou hulle tans aan nadat hulle hulp aan Gaza wou lewer. Die koningshuis het regspanne, diplomate en ondersteuners in ‘n verklaring bedank en veroordeel die beweerde mishandeling van die Sweedse aktivis Greta Thunberg. Die Mandelas het solidariteit met Palestynse gevangenes herbevestig en wêreldwye optrede aangespoor teen wat hy Israel se apartheids-volksmoord noem.
# Die Stad Johannesburg verwelkom die besluit van die Globale Kredietgraderings-maatskappy om sy uitsig van negatief na bestendig te verander. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, sê die uitsig is in Julie 2023 afgradeer na negatief weens gedempte inkomstegroei, stygende uitgawes en taamlike swak invorderingskoerse. Hy sê die jongste hersiening is ‘n noemenswaardige ommekeer, en onderstreep die positiewe gevolg van sterk leierskap, gesonde bestuur, verstandige finansiële bestuur, strenger interne beheer en doeltreffende gebeurlikheidsbeplanning.
# Die Midvaal-munisipaliteit is erken as die bes-presterende munisipaliteit in Gauteng tydens die 2025 Munisipale Prestasietoekennings. Dit vereer munisipaliteite wat uitblink in finansiële gesondheid, bestuur, fiskale dissipline en dienslewering. Burgemeester Peter Teixeira se woordvoerder, Idah Satikhe, sê die prestasie word toegeskryf aan die hardwerkende personeel en openbare verteenwoordigers, sowel as belastingbetalende inwoners:
# Die Departement van Vervoer stel voor dat afstandbeheerde vliegtuigstelsels in Suid-Afrika geregistreer word. ‘n Woordvoerder, Collen Mnisi, sê die voorstel, wat deel is van ‘n breër lugvragstrategie, is oop vir openbare kommentaar tot 6 November. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die doel is om hommeltuie se potensiële rol in die vrag-waardeketting te ondersoek:
# Sokker: Suid-Afrika is deur na die uitklopfase van die Onder-20-Wêreldbekertoernooi in Chili na ‘n oorwinning van 2-1 oor Amerika. Die Amerikaners het die voortou geneem met ‘n doel deur Noah Cobb, en Amajita het die telling gelykop gemaak toe Joshua Wynder ‘n eie doel aangeteken het. Die ommekeer is voltooi toe Gomolemo Kekana net voor rustyd die tweede doel aangeteken het. Ondanks die nederlaag gaan die Amerikaners steeds deur as wenner van Groep-E, terwyl Amajita tweede is op doelgemiddeld en in die laaste 16 teen Colombië speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-71-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-940-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….