Nuus 14:00
BULLETIN 26 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuienis by die Madlanga-kommissie aangehoor dat die politieke moorde-taakspan groter sukses met sake behaal het
# Die DA sê dringende ingryping is nodig met die Johannesburgse burgemeester Dada Morero se roekelose besluite
# En, padgebruikers gewaarsku om versigtig te wees te midde van groot godsdienstige en sosiale byeenkomste in Limpopo
# Die KwaZulu-Natalse Direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê die taakspan vir politieke moorde het gehelp om hoër skuldigbevindingsyfers in polities gemotiveerde sake te behaal. Harrison sê met aanklaers toegewy aan die eenheid se werk, was sake meer suksesvol afgehandel in vergelyking met voor die stigting van die taakspan. Sy beskryf die taakspan as noodsaaklik in die bekamping van politieke geweld in die provinsie:
# Die DA in Johannesburg het ‘n skrywe gerig aan die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die Ouditeur-Generaal, Tsakani Maluleke. Die party eis dringende ingryping in die nasleep van burgemeester Dada Morero se toenemend twyfelagtige besluite wat lei tot die Stad se ineenstorting. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê Morero het aan die Parlement bevestig vier-miljard-rand is vanaf Johannesburg Water herlei om onspesifieke algemene finansiële verpligtinge, insluitend salarisse en bedryfskoste, te dek:
# Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo sê hy het verkeersmaatreëls verskerp in aanloop tot ‘n verwagte toename in padverkeer. Groot godsdienstige geleenthede, pelgrimstogte en sosiale byeenkomste word die naweek beplan. Die departement se woordvoerder, Dali Tshifhiwa, sê verkeersbeamptes is strategies langs hoofroetes en besige kruisings ontplooi, en sluit die N1, R101, R81 en die R71 in:
# ‘n Deense lughawe is vandag vir die tweede keer in ‘n paar uur vir ‘n rukkie gesluit nadat ‘n vermeende hommeltuig oor die lughawe gewaar is. Volgens die land se eerste minister was dit deel van “hibriede aanvalle” wat moontlik met Rusland verband hou. Hommeltuie is sedert Woensdag oor verskeie Deense lughawens gesien, met een wat vir ure gesluit is, nadat die lughawe in Kopenhagen vroeër die week ook moes sluit. Dit volg na ‘n soortgelyke voorval in Noorweë, hommeltuiginvalle in Poolse en Roemeense gebied en die skending van Estland se lugruim deur Russiese vegvliegtuie.
# Gholf: Rory McIlroy sê om teen Bryson DeChambeau in ‘n Ryderbeker-wraakstryd te speel, sal “wonderlik” wees. Dit volg nadat hulle woordestryd vandeesweek in felheid toegeneem het. McIlroy is egter meer besorg dat Europa in Amerika moet wen. Die woordestryd met DeChambeau het by die Meesters-toernooi begin, waar die tweemalige Meesterskampioen belowe het hy sal ‘n lastige woordjie in McIlroy se oor fluister by die Ryderbeker, wat vandag by Bethpage Black begin. McIlroy het verlede maand gesê DeChambeau, wat in die Saudi-ondersteunde LIV-reeks speel, slegs aandag kan trek deur ander spelers se name by te sleep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-890-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-748-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….