Nuus 14:00
BULLETIN 15 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê wetstoepassings-agentskappe werk dringend daaraan om die Kemptonparkse moorde op te los
# Die DA sê minister Pule ignoreer die Openbare Beskermer se regstellende stappe
# En motorsport: Die nuwe Spaanse Grand Prix-renbaan gaan verander vir meer verbysteekgeleenthede
# President Cyril Ramaphosa sê alles sal in die stryd gewerp word om die onlangse moorde op vroue in en om Kemptonpark in Gauteng op te los. Hy het sy meegevoel met die gesinne betuig en gesê dit veroorsaak vrees, veral onder vroue. Ramaphosa sê wetstoepassingsagentskappe probeer dringend om die feite vas te stel en die oortreders aan te keer. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê die sake sal die nodige aandag kry:
Intussen vra die Kommissie vir Geslagsgelykheid dringende optrede na die ses moorde. Woordvoerder Javu Baloyi sê vroue behoort nie hul leefwyse aan te pas of vryheid in te perk om veilig te voel nie. Die kommissie vra ‘n onmiddellike veiligheidsoudit wat die polisie, munisipaliteit, vervoer-owerhede en gemeenskaps-veiligheidstrukture betrek. Dit moet onder meer kyk na straatbeligting, toesigmaatreëls, voetganger-roetes, openbare vervoerpunte en polisie-sigbaarheid. Baloyi vra inwoners om enige inligting wat kan help aan die polisie deur te gee.
# Die DA sê die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, moet verantwoording doen omdat sy die Openbare Beskermer se regstellende stappe ignoreer het. Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het beveel die sakeman Phosane Mngqibisa moet meer as 15-duisend-rand terugbetaal nadat hy Pule in 2013 oorsee vergesel het terwyl sy minister van Kommunikasie was. DA-woordvoerder Nazley Sharif sê Pule moes toegesien het dat die geld teruggekry word:
# Motorsport: Die organiseerders van die Formule Een Spaanse Grand Prix is gereed om die nuwe Madring-renbaan vir volgende jaar te verander ná die afgelope naweek se openingswedren. Renjaers het gekla oor die gebrek aan verbysteek-geleenthede, terwyl toeskouers op sosiale media ook krities was oor toegang tot die terrein en geriewe. Die Madring se besturende direkteur, Luis Garcia Abad, sê die beheerligganaam, F-I-A, het dit duidelik gemaak hoe die baanontwerp verbeter kan word, en sê daar is ruimte om verbeterings aan te bring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-951-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-275-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nelson Mandela-universiteit in Gqeberha in die Oos-Kaap is op koers om teen Mei volgende jaar ongeveer 80-persent van sy elektrisiteit uit hernubare energie te verkry. Die instelling sal tot 55-persent van die elektrisiteitshandelaar Etana ontvang, terwyl sy eie sonkragprojek van 4,4-megawatt tot 30-persent sal bydra. Die stap volg op ernstige beurtkrag in die verlede, toe die universiteit grootliks op dieselopwekkers moes staatmaak. Die projek sal na verwagting jaarliks tot 12-miljoen-rand bespaar en koolstof-uitstraling met ongeveer 12-miljoen ton verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….