Nuus 14:00
BULLETIN 16 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Leigh Matthews se familie is gekant teen moontlike parool vir Donovan Moodley
# Die UDM vra Cachalia en Masemola om mediavryheid te beskerm
# En Wildlife Ranching SA beskuldig minister George dat hy nie trofeejagkwotas vasstel nie
# Die familie van die vermoorde Johannesburgse student Leigh Matthews verwerp aanbevelings oor haar moordenaar se moontlike parool. Donovan Moodley is in 2005 skuldig bevind aan moord, ontvoering en afpersing, en is reeds byna 21 jaar agter tralies. Matthews se pa, Rob, het aan SABC News gesê die proses het weer pynlike wonde oopgekrap. Hy beklemtoon daar was geen volledige openbaarmaking van die misdaad of ‘n behoorlike evaluering van die gevaar wat Moodley vir die samelewing inhou nie:
# Die UDM vra die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola vir dringende maatreëls om mediavryheid te beskerm terwyl wetstoepassing tydens betogings versterk word. Woordvoerder Zandile Phiri verwys na die joernaliste Sandiso Phaliso wat in Nyanga, Kaapstad, aangerand is, en Julia Evans, wat deur ‘n rubberkoeël gewond is toe sy gemeenskaps-betogings gedek het in Westbury, Johannesburg. Phiri sê hierdie voorvalle toon ‘n breër neiging binne die polisie om beperkings te laat vaar ten gunste van geweld:
# Wildlife Ranching South Africa het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, beskuldig dat hy nie jaarlikse jagkwotas vir olifante, swartrenosters en luiperds vasgestel het nie. George het onlangs aangekondig hy sal kwotas terughou hangende ‘n hofuitspraak. Die organisasie voer aan die minister gebruik die saak as ‘n verskoning om nie op te tree nie. Wildboere sê die vertraging het Suid-Afrika miljarde-rand in verlore inkomste gekos en het die hoëwaarde-jagbedryf en gemeenskappe wat afhanklik is daarvan, lamgelê.
Nuus uit die buiteland:
# Die presidents- en parlementêre verkiesing in Malawi het begin met 17 name op die stembrief. Politieke ontleders verwag dat die wedloop tussen president Lazarus Chakwera en sy voorganger, Peter Mutharika, sal wees. Albei word beskuldig van korrupsie en wanbestuur. Die verkiesing vind plaas terwyl die land worstel met inflasie van meer as 27-persent, ernstige brandstof-tekorte en die lewenskoste wat skerp styg. Ontleders voorspel ‘n tweede ronde van die verkiesing, met jong kiesers wat ‘n noemenswaardige invloed op die uitslag sal hê.
# Sokker: Manchester United staan by sy beleërde afrigter, Ruben Amorim, na die klub se swakste begin in ’n Premierliga-seisoen in 33 jaar. United het Sondag 3-0 teen Manchester City verloor in die Manchester-derby, wat beteken hy twee keer in vier wedstryde verloor en slegs vier ligapunte het. Die klub sê hulle het ‘n langtermynplan en sal nie die afrigter herevalueer na elke nederlaag nie. United se volgende wedstryd is teen Chelsea.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-51 teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-525-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-695-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….