Nuus 14:00
BULLETIN 15 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa se hoof-lyfwag word vrygespreek in die Phala Phala-saak
# Mbeki beklemtoon Suid-Afrika wil nie ‘n handelsoorlog met Amerika hê nie
# En fietsry: Die Suid-Afrikaner Allan Hatherley verdedig sy titel op die bergfietsry-wêreldkampioenskap
# Die hoof van Presidensiële Beskerming, Wally Rhoode, is onskuldig bevind aan wangedrag tydens ‘n polisie-tugsaak. Hy is daarvan beskuldig dat hy onreëlmatig ‘n nie-amptelike ondersoek ingestel het na die Phala Phala-diefstalsaak van 2020 toe tien-miljoen-rand van president Cyril Ramaphosa se wildsplaas in Limpopo gesteel is. Die Openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, het bevind dat hy onregmatig opgetree het, maar die tugkomitee het anders besluit. Rhoode bly Ramaphosa se hoof-lyfwag, terwyl die saak teen die drie beskuldigdes in die diefstal vandag in die Streekhof in Modimolle, Limpopo, voortgaan.
# Oudpresident Thabo Mbeki het Suid-Afrika versoek om opbouende dialoog met Amerika te voer om ‘n handelsoorlog te voorkom en nasionale soewereiniteit te beskerm. Mbeki het by Unisa gepraat oor ekonomiese uitdagings en waarsku teen ‘n botsing nadat Washington tariewe van 30-persent op belangrike Suid-Afrikaanse uitvoere ingestel het. Mbeki het die regering se pogings onderskryf en diplomasie en handels-uitbreiding na Europa, China en BRICS as noodsaaklik beklemtoon. Hy eis Suid-Afrika moet sy standpunt oor onafhanklikheid behou:
# ActionSA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en haar adjunkte het ‘n verbysterende 20-miljoen-rand aan reise vermors sedert sy die amp begin beklee het. Hulle het na bestemmings soos Viëtnam, Kuba, Maleisië, Japan en Turkye gereis sonder enige regverdiging of voordeel vir die koste verbonde. Lerato Ngobeni van ActionSA sê van die skokkendste voorbeelde is die 4,9-miljoen-rand wat aan huurmotors bestee is, 5,5-miljoen-rand aan binnelandse reise en luukse verblyf wat meer as drie-miljoen-rand beloop het:
# Eskom vra die publiek om onwettige kragaansluitings en elektrisiteitsdiefstal teen te staan. Woordvoerder Daphne Mokwena sê hierdie bedrywighede skaad kraglewering en bedreig openbare veiligheid. Sy sê elektrisiteit moet slegs van Eskom-goedgekeurde voorsieners gekoop word, en kliënte word aangemoedig om hulle kragverbruik te reguleer. Mokwena sê dit is noodsaaklik om veilige, betroubare en regverdige toegang tot elektrisiteit vir almal te bied.
# Fietsry: Die Suid-Afrikaner Allan Hatherley het sy titel suksesvol verdedig op die bergfiets-wêreldkampioenskap toe hy goud gewen het in die Crans-Montana in Switserland. Hy is die vierde fietsryer in die geskiedenis wat dié prestasie behaal. Die 24-jarige Durbaniet het die wedren in een-uur-30-minute voltooi. Die Italianer, Simone Avendetto, was tweede en Victor Koretzky van Frankryk derde. Die Nederlander, Mathieu van der Poel, se strewe na ‘n wêreldtitel in ʼn vierde, afsonderlike dissipline was onsuksesvol toe hy in die 29ste plek klaargemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-38 teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-840-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-645-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….