Nuus 14:00
BULLETIN 11 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se beleggingsberaad verseker beleggingsbeloftes van 86-miljard-rand
# ‘n Belgiese fees kanselleer die optrede van ‘n Duitse orkes oor sy Israelse dirigent
# En atletiek: Simbine hoop op ‘n individuele medalje in Tokio
# Die Tshwane-beleggingsberaad het 86-miljard-rand in beloftes vir die stad verseker om by te dra tot 22 projekte in die eiendoms-, bou-, motor- en infrastruktuursektor. Die burgemeester se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê ‘n teiken van vyf-miljard-rand is vir die beraad gestel. Sy sê die beraad vorm deel van die veelparty-koalisieregering se strewe om ekonomiese groei, werkskepping en belegging in die hoofstad te versnel:
# Forum for South Africa het die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit verwelkom om die ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Steve Biko te heropen. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die NVG se versoek goedgekeur, met die steun van die Biko-familie se regspan. Biko het 48-jaar gelede onder geheimsinnige omstandighede in polisie-aanhouding gesterf. Die leier van die forum, Tebogo Mashilompane, sê dis ‘n belangrike stap in die rigting van waarheid, geregtigheid en toerekenbaarheid:
# Die DA het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika na die Openbare Beskermer verwys oor ’n foutiewe berekening van 54-miljard-rand in Eskom se tariewe ingevolge die Veeljarige Prysbepaling 6. Kevin Mileham van die DA sê die fout, wat deur die voorsitter van NERSA, Thembani Bukula, erken is, sal verhoogde elektrisiteitpryse in die volgende twee boekjare tot gevolg hê. Die DA veroordeel NERSA se bestuursmislukkings, deursigtingheidgapings en vermoëns-kwessies, en dring aan op ‘n hersiening van sy raad.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Vooraanstaande Duitse orkes se optrede op ‘n Belgiese fees is gekanselleer na kommer oor sy Israelse dirigent, wat woedende reaksie uit Berlyn uitgelok het. België se minister van Buitelandse Sake, Maxime Prévot, het hom gedistansieer van die besluit van die Vlaamse Fees Gent, waar die Filharmoniese Orkes van München volgende Donderdag sou optree onder leiding van sy toekomstige hoofdirigent. Lahav Shani neem amptelik oor as dirigent van die orkes vir die 2026/27-seisoen. Hy is tans musiekdirekteur van die Israelse Filharmoniese Orkes.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse naelloper, Akani Simbine, sê hy is vol vertroue dat hy sy eerste individuele 100-meter-medalje kan inpalm op die Wêreld-kampioenskap wat die naweek in Tokio, Japan, begin. Hy sal ook deelneem aan die vier-maal-100-meter-aflos. Die 31-jarige atleet het hierdie seisoen drie Diamantliga-oorwinnings behaal en in Maart ook ‘n bronsmedalje verower op die Binnenshuise Wêreldkampioenskap. Simbine sê die medaljes wat hy wen, is bloot die kersie op die koek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-51-ent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-997-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-622-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….