Nuus 14:00
BULLETIN 9 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ekonomie herstel effens met 0,8-persent in die tweede kwartaal
# Water en Sanitasie sê Sunday Times se artikel oor Waterraadslede wat miljoene verdien is misleidend
# En rugby: Die All Blacks-senter Quinn Tupaea verleng sy kontrak tot 2027
# Suid-Afrika se ekonomie het met 0,8-persent gegroei vanaf April tot Junie teenoor 0,1-persent in die vorige kwartaal. Groei is aangevuur deur mynbou, vervaardiging en handel, met sterk prestasie in platinum, goud, chemikalieë en die motorbedryf. Huishoudelike besteding aan goedere, klere en gasvryheid het ook bygedra. Die Statistikus-generaal, Risenga Maluleke, het tydens die vrystelling van die bruto binnelandse produk-uitslae gesê vervoer en die boubedryf het afgeneem en uitvoere het met 3,2-persent gedaal, wat ‘n las op die ekonomie is:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê Sunday Times se artikel waarin verwys word na Waterrade se lede wat byna 50-miljoen-rand per jaar aan raadsfooie verdien, is misleidend. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die maksimum bedrag wat ‘n raadslid in die laaste boekjaar verdien het, was 1,7-miljoen-rand. Sy voeg by die stelling in die artikel Splashing out, Dry Taps as Water Boards drown in excess oor sekere raadslede wat tot 100-duisend-rand per vergadering kry, is ook misleidend:
# Die staatsbeheerde digitale verspreider Sentech waarsku hy sal die SABC se sein teen Desember afskakel indien die uitsaaier nie sy skuld van ‘n miljard-rand vereffen nie. Die SABC wil die seinkoste weer onderhandel te midde van vertragings met die aanvaarding van die Wetsontwerp op die SABC om ‘n nuwe befondsingsmodel te skep. Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Khusela Diko, sê dringende ingryping is nodig om die SABC te red en werksgeleenthede en gemeenskapsuitsendings te beveilig:
# Rugby: Die All Black-senter Quinn Tupaea het sy kontrak met die Nieu-Seelandse Rugbyunie en Chiefs tot einde 2027 verleng. Die 26-jarige het vanjaar ‘n uitstekende Superrugby Pacific-veldtog agter die rug wat daartoe gelei het dat hy die eerste keer sedert 2022 na die nasionale span opgeroep is. Die All Blacks se oorwinning van 24-17 Saterdag oor die Springbokke op Edenpark waarin Tupaea ‘n drie gedruk het, was sy 18de toets. Hy sê hy is opgewonde om sy loopbaan op klub- en nasionale vlak voort te sit.
# Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-917-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-654-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, PNA wil vanjaar 2,5-miljoen-rand insamel as deel van sy jaarlikse, landwye fondsinsameling om gemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië op te hef. Die veldtog wat op 18 Julie op Nelson Mandela-dag begin het, eindig Vrydag met PNA se Prettige Sokkie-dag. Die geleentheid ondersteun vier organisasies sonder winsbejag: Breadline Africa, die CHOC-kinderkankerstigting, Rally to Read en Matla a Bana. Mense word aangemoedig om Vrydag ‘n plakker vir net tien-rand te koop en hulle prettigste sokkies te dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….