Nuus 14:00
BULLETIN 2 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mandla Mandela lei Suid-Afrika se afvaardiging in ‘n wêreldwye konvooi na Gaza
# AfriForum en Saai onthul hulle internasionale strategie teen die slagspreuk ‘Kill the Boer’
# En atletiek: Bayanda Walaza is ingesluit in Suid-Afrika se span vir die Wêreldkampioenskap ondanks beseringskommer
# Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, lei Suid-Afrika se afvaardiging in die grootste burgerlike maritieme sending om Israel se blokkade van Gaza uit te daag. Die vloot, wat met 50 vaartuie vanaf 44 nasies vanuit Barcelona in Spanje vaar, vervoer voedsel, mediese voorraad en baba-poeiermelk. Internasionale figure soos die Sweedse politieke aktivis Greta Thunberg en die Amerikaanse aktrise Susan Sarandon het aangesluit. Die sending sal ondanks stormvertragings in Tunisië hergroepeer. Die veldtog beklemtoon solidariteit met Palestina te midde van Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel.
# AfriForum en die Suider-Afrika Agri-inisiatief gaan môre hul internasionale strategie teen die slagspreuk “Kill the Boer” in Centurion aankondig. Kallie Kriel en Ernst van Zyl van AfriForum en Theo de Jager van SAAI gaan ‘n klagstaat genaamd die ‘Malema-dossier’ oor die EFF-leier Julius Malema vrystel. Die dossier, saamgestel deur AfriForum se Navorsings- en Privaat Vervolgingseenheid, ondersoek die gevolge van die Magnitsky-wet wat individue en instellings teiken wat betrokke is by ernstige menseregteskendings. Die organisasies sê dit bepaal hul strategie teen Malema se beweerde ekstremisme en korrupsie.
# Die DA sê die Departement van Landbou se optrede om die bek-en-klouseer-uitbreking in die land te bekamp, is bemoedigend. KwaZulu-Natal bly die middelpunt van die siekte. Altesaam 274 van die uitbrekings is nog aktief, waarvan 180 in KwaZulu-Natal is. Willie Aucamp van die DA sê die skepping van ‘n taakspan met lede uit die bedryf én die regering vir die voorkoming, bestuur en beheer van dieresiektes word verwelkom:
# Die Sioniste Christelike kerk sê hul nuwejaars-toewydingskonferensie sal van môre tot volgende Woensdag by Moria-stad in Limpopo gehou word. Dit is hulle eerste groot byeenkoms sedert die Covid-19-pandemie. Kerkgangers word versoek om verkeersreëls na te kom, te verseker dat voertuie padwaardig is en toesig oor kinders te hou. Die kerk se woordvoerder, Moatshe Ngoepe, sê hulle sal nou saamwerk met wetstoepassing om orde te handhaaf en ‘n veilige en geestelik-opbouende geleentheid vir alle deelnemers te verseker:
# Atletiek: Die opkomende ster-naelloper Bayanda Walaza is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span van 49 atlete vir die Wêreldkampioenskap wat volgende Saterdag in Tokio afskop. Die 19-jarige het Donderdag vermoedelik ‘n dyspier seergemaak in die eindronde van die 100-meter op die Diamantliga-byeenkoms in Zürich, Switserland. Sy insluiting in die groep is blykbaar nie ‘n waarborg van fiksheid nie. Die span bestaan uit 32 mans, 17 vroue en 11 aflos-atlete.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-440-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-481-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….