Nuus 14:00
BULLETIN 29 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement eis ‘n antwoord van minister Malatsi oor die SABC-wetsontwerp wat in die lug hang
# Die Hooggeregshof staan ‘n interdik toe aan die Wes-Kaapse regering om taxigeweld te beëindig
# En die DA sê Gauteng kan ‘n katastrofiese somer van water-onsekerheid beleef
# Die Parlement wag op ‘n antwoord van die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, oor die vertraagde Wetsontwerp op die SABC. Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Khusela Sangoni-Diko, beskou Malatsi se vroeëre plan om dit terug te trek as ongrondwetlik. Sy waarsku dat die openbare uitsaaier sal sukkel om ná Desember te funksioneer met slegs 193-miljoen-rand teenoor die miljarde wat benodig word. Sangoni-Diko het op SABC News beklemtoon dat regeringsondersteuning noodsaaklik is vir die vervulling van sy openbare mandaat:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n dringende interdik toegestaan aan die provinsiale Departement van Beweeglikheid om maatreëls in te stel teen die voortslepende minibustaxi-verwante geweld in Mfuleni, Somerset-Wes, Nomzamo en Lwandle in Kaapstad, wat reeds lewens geëis het. Premier Alan Winde sê die tussentydse interdik het ten doel om pendelaars, operateurs en lede van die publiek teen verdere skade te beskerm:
# Die DA in Gauteng sê die vinnige verval van Rand Water se bergingstelsel word vererger deur munisipaliteite se versuim om voldoende, noodsaaklike waterinfrastruktuur te voltooi. Die waternutsdiens se bergingstelsel het binne ‘n week van sowat 55-persent tot net minder as 40-persent gedaal. ʼn DA-woordvoerder, Stephen Moore, sê as die stelsel nou al in hierdie toestand is, kan Gauteng ʼn katastrofiese somer van wateronsekerheid verwag:
# Fietsry: Die viermalige Tour de France-wenner, Chris Froome, het ‘n operasie ondergaan nadat hy veelvuldige beserings opgedoen het tydens ‘n ongeluk terwyl hy geoefen het in die suide van Frankryk. Die 40-jarige Brit het ‘n gebreekte werwel, sy long het platgeval en vyf ribbes is gebreek. Geen ander fietsryers was by die ongeluk betrokke nie. Froome is in die laaste maande van ‘n vyfjaarkontrak wat hy in 2021 met die Israel Premier-Tech-span gesluit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-950-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-406-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het in Harare, Zimbabwe, aangekom vir ‘n werksbesoek en om as eregas deel te neem aan die amptelike opening van die Zimbabwiese Landbouskou. wat sy 130ste bestaansjaar vier. Meer as 500 uitstallers van verskeie lande word verwag, insluitend Suid-Afrika, Tanzanië, Brasilië, China, Nigerië, Ghana en Pakistan. Ramaphosa se besoek sal ekonomiese bande tussen Suid-Afrika en Zimbabwe as sleutel-handelsvennote versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….