Nuus 14:00
BULLETIN 28 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party sê Malema se dreigemente van geweld teen minderhede is te lank toegelaat
# Mexikaanse senatore raak handgemeen oor beweerde oproepe vir Amerika om militêr in te gryp teen dwelmkartelle
# En tennis: Medvedev word swaar beboet oor sy woede-uitbarsting op die Amerikaanse Ope
# Die Referendum-party verwelkom die Gelykheidshof se uitspraak wat die EFF-leier, Julius Malema, skuldig bevind het aan haatspraak en vra dat hy tot die volle omvang van die reg gestraf word. Die party se woordvoerder, Christian King, sê Malema is te lank toegelaat om dreigemente van geweld en rassistiese tirades te voer teen minderhede, veral wit en Indiese gemeenskappe, met bykans geen straf of gevolge nie:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente versterk pogings om studielenings in te vorder, met die fokus op leners wat voor 2018 befondsing ontvang het. Diegene wat meer as 30-duisend-rand per jaar verdien, moet begin om terug te betaal, aangesien rekeninge moontlik aan gemagtigde eksterne skuldinvorderaars oorhandig kan word indien dit agterstallig is. NSFAS se waarnemende uitvoerende hoof, Waseem Carrim, het vyf gemagtigde skuldinvorderingsagentskappe bevestig:
Nuus uit die buiteland:
# Mexikaanse senatore het handgemeen geraak na ‘n hewige debat oor beweerde opposisie-oproepe dat Amerika militêr moet ingryp teen dwelmkartelle. Die leier van die opposisie-PRI-party, Alejandro Moreno, het die president van die Senaat, Gerardo Fernandez Norona van die regerende Morena-party, woedend gekonfronteer omdat hy nie ‘n spreekbeurt gegee is nie. Moreno het in ‘n video, wat die Senaat op sosiale media geplaas het, Fernandez Norona verskeie kere gestoot, hom teen die nek klap en ‘n ander man op die grond gedruk toe hy probeer ingryp het.
# Tennis: Die Rus Daniil Medvedev is met 750-duisend-rand beboet vir sy woede-uitbarsting tydens sy eerste ronde-nederlaag teen Benjamin Bonzi van Frankryk op die Amerikaanse Ope. 2021 se kampioen het kwaad geword toe ‘n fotograaf op die baan gestap het terwyl hy in die derde stel wedstrydpunt moes afweer en het na die wedstryd sy raket stukkend geslaan. Medvedev is met 530-duisend-rand beboet vir onsportiewe gedrag en nog 220-duisend rand vir raketmisbruik. Dit beteken dat hy byna 40-persent van sy prysgeld verbeur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-912-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-396-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-16-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Universiteit Stellenbosch betreur die dood van die bekende botanis en kurator van die universiteit se botaniese tuin, Donovan Kirkwood. Hy is dood nadat hy in die Jonkershoekberge geval het tydens ‘n bewaringsuitstappie. Kirkwood was besig met ‘n opname van kritiek-bedreigde plantspesies saam met lede van CapeNature en die Cambridge-universiteit en het gewerk aan die bewaring van die kritiek-bedreigde Penaea formosa-plant. Die universiteit beskryf hom as ‘n toegewyde botanis en visioenêr wat die tuin omskep het in ‘n sentrum vir die bewaring van skaars Kaapse flora.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….