Nuus 14:00
BULLETIN 27 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola bepleit ‘n verenigde front teen misdaad op Interpol se konferensie
# Israeliese magte lê beslag op byna agt-miljoen-rand se vermeende terreurfondse in Ramallah
# En krieket: Die Indiese draaibouler Ashwin kondig die einde van sy IPL-loopbaan aan
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê diegene wat voordeel trek uit onbestendigheid teiken Afrika se groei en veerkragtigheid. Hy het tydens die 27ste Interpol Afrika-streekskonferensie in Kaapstad die behoefte beklemtoon aan sterker instellings, die deel van intelligensie en geïntegreerde wetsraamwerke. Masemola het die byeenkoms ‘n geskiedkundige oomblik genoem en kragtige, samewerkende optrede versoek om Afrika se toekoms te verseker terwyl wêreldwye misdaadnetwerke bekamp word:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê Suid-Afrika moet toegang tot gehalte- basiese leerwerk uitbrei en die dringendste onderwysuitdaging is die krisis in vroeë geletterdheid en syfervaardigheid. Gwarube het gepraat tydens die aanstelling van nuwe lede van die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad in Pretoria. Sy sê te veel kinders in Suid-Afrika bereik Graad 4 sonder om met begrip te kan lees of basiese wiskundige begrippe toe te pas:
Nuus uit die buiteland:
# Israelse veiligheidsmagte het beslag gelê op sowat agt-miljoen-rand van wat hulle “terreurfondse” noem tydens ‘n klopjag aan die besette Wesoewer. Israelse magte het ‘n geldeenheidwisselaar in Ramallah geteiken en tientalle Palestyne gewond gelaat. ‘n Verklaring deur ‘n polisiewoordvoerder sê die Israelse grenspolisie en die Weermag het ‘n geldeenheidswisselaar in die hartjie van Ramallah bestorm wat gebruik is om fondse na Hamas oor te dra. Nege gesoekte verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle by terreur betrokke is, is in hegtenis geneem.
# Krieket: Die Indiese draaibouler Ravichandran Ashwin het sy uittrede uit die Indiese Premierliga aangekondig, maar sê hy is dalk steeds vir ander franchise-kompetisies beskikbaar. Die 38-jarige sê hy gaan onmiddellik ander moontlikhede ondersoek. Ashwin het die eerste van sy 221 IPL-wedstryde vir Chennai Super Kings gespeel en ook vir Rising Pune Supergiants, Delhi Capitals, Rajasthan Royals en Kings Eleven Punjab verteenwoordig voor hy na CSK teruggekeer het. Sy 187 IPL-paaltjies is die vyfde meeste in die liga. Ashwin het verlede jaar uit internasionale krieket getree.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-145-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-375-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-52-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Frankryk het drie skedels uit die koloniale era aan Madagaskar terugbesorg. Een daarvan is moontlik dié van ‘n Malgassiese koning wat gedurende ‘n 19de-eeuse massamoord deur Franse soldate onthoof is. Die skedel, vermoedelik van koning Toera, en twee ander van die Sakalava-etniese groep is oorhandig tydens ‘n seremonie by die Franse Ministerie van Kultuur. Franse soldate het koning Toera vermoedelik in 1897 onthoof en sy skedel as ‘n trofee na Frankryk geneem waar dit later in Parys se nasionale geskiedenismuseum geplaas is saam met honderde ander oorblyfsels van die eiland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….