Nuus 14:00
BULLETIN 25 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sperdatum vir registrasie vir ondersoeke na apartheid-era-sake is vandag
# Gwarube sê die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad sal skole versterk
# En rugby: Erasmus hou by die Bokke wat teen die Wallabies gespeel het vir die toer na Nieu-Seeland
# Families van slagoffers en oorlewendes van menseregte-skendings uit die apartheids-era het tot vanmiddag vier-uur om te registreer vir vooraf-raadpleging met die regterlike kommissie van ondersoek. President Cyril Ramaphosa het die kommissie in Mei gevestig om die dwarsboming van Waarheid- en Versoeningskommissie-sake te ondersoek. Die kommissie sal vasstel of beamptes die polisie of aanklaers beïnvloed het om sake te vertraag, moontlike samespanning, en of grondwetlike eise geregverdig is. Die kommissie moet sy werk binne ses maande afhandel en daarna binne 60 dae verslag doen.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die ingewortelde probleme in die sektor benodig langtermyn oplossings. Sy het op die G20 se Basiese Onderwysindaba in Kaapstad die inwerkingtreding van die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad aangekondig om raad te gee oor skoolbefondsing, grondslagfase-ondersteuning en die hersiening van bevorderings-beleid. Gwarube het hervorming beklemtoon gegrond op bewyse, jeugdeelname, en duidelike realisties veranderings om vroeë kinderonderwikkeling, geletterheid en syfervaardigheid te versterk:
# Cosatu het die minister van Arbeid, Makhosazana Meth, versoek om in te gryp nadat die gesinne van elf vissers wat in Mei verlede jaar aan boord van die MVF Lepanto wes van Kaapstad verdrink het, geen vergoeding ontvang het nie. Geen uitbetalings is nog gedoen nie, ondanks bevele deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, versoek om die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid se veiligheidsoudit vry te stel om verdere tragedies te voorkom:
Nuus uit die buiteland:
# Viëtnam het skole en lughawens gesluit en duisende mense ontruim voor die aankoms van die kragtige Tifoon Kajiki. Die storm het gister die suidelike Chinese eiland Hainan getref en bome omgewaai en oorstromings veroorsaak voor dit oornag die Golf van Tonkin bereik het met volgehoue windspoed van 166-kilometer per uur. Volgens Viëtnam se weersvoorpeller is Kajiki gelykstaande aan ‘n kategorie 2-Atlantiese orkaan. Dit is die vyfde en sterkste tifoon wat Viëtnam vanjaar sal tref wanneer dit die kus na verwagting later vandag bereik.
# Rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, volhard met die spelers wat in die eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië diens gedoen het vir volgende maand se toer na Nie-Seeland. Die vleuels Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe is beseer en Makazole Mapimpi sal die toer meemaak. Cobus Wiese, die enigste voorspeler wat teen die Wallabies gespeel het wat nie in die groep is nie, is op bystand geplaas. Sy broer, Jasper, dien steeds sy skorsing uit en sal eers vir die tweede toets in Wellington beskikbaar wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-107-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….