Nuus 14:00
BULLETIN 21 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Masemola sê die moord op polisielede is pynlik en onaanvaarbaar
# Die Referendum-party veroordeel die ANC wat nie wegdoen met raswette nie
# En inwoners vlug uit Gaza-stad aan die begin van ‘n Israelse aanval
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het aangekondig dat ses polisielede sedert begin vanjaar vermoor is terwyl hulle aan diens was. Hy sê die moord en aanvalle op polisielede is pynlik en onaanvaarbaar. Masemola sê die ministerie herinner polisielede dat hulle nooit moet huiwer om hulsef te verdedig as hulle bedreig word nie. Hy sê hulle moet die beskikbare hulpmiddels gebruik om die oppergesag van die wet te handhaaf:
# Die Referendum-party sê die ANC het raswette verder verskans te midde van toenemende internasionale druk om daarmee weg te doen. Robert King van die party sê dis dié maand 40 jaar sedert PW Botha se berugte Rubicon-toespraak, ‘n keerpunt waar Suid-Afrika hervorming afgekeur en isolasie gekies het. Hy sê vier dekades later klink adjunk-president Paul Mashatile skrikwekkend dieselfde. King sê dis lagwekkend dat Mashatile aanvoer raswette is nodig vir inklusiewe groei:
Die EFF sê intussen Suid-Afrika is Amerika nie enige verduidelikings verskuldig vir sy soewereine diplomasie en militêre verbintenisse nie. Dit volg nadat die Amerikaanse regering Suid-Afrika gevra het vir ‘n verduideliking oor sy beleid oor Iran, na aanleiding van die hoof van die Weermag, generaal Rudzani Maphwanya, se omstrede reis na die land. Die EFF sê die land moet nie swig voor afknouery en intimidasie van Amerika nie. Hy voeg by Suid-Afrika moet voortgaan om vrylik met Iran en alle ander nasies te skakel, sonder om sy buitelandse beleid te verlaag volgens die emosies van die Amerikaanse president, Donald Trump.
# Palestyne vlug uit dele van Gaza-stad nadat die Israelse Weermag met die eerste deel van ‘n grondaanval begin het. Amptenare sê Israelse soldate het hulle aan die buitewyke van die stad gevestig ná dae van intense bomaanvalle en artillerie-vuur. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het weer ‘n onmiddellike wapenstilstand gevra om die dood en vernietiging te vermy wat hy weet onvermydelik gaan plaasvind. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy verkort die tydlyne vir die besetting van wat hy beskryf as die laaste terreurvestings in Gaza.
# Rugby: Die Bulle se losskakel, Boeta Chamberlain, gaan na die Curriebeker-kompetisie by die Engelse Premierskapspan Newcastle Red Bulls aansluit. Die voormalige onder-20 Springbok is ‘n produk van Paarl Boishaai . Hy het 59 wedstryde vir die Pretoriase span gespeel en meer as 150 punte aangeteken nadat hy verlede jaar van die Haaie oorgeskuif het. Die 26-jarige Chamberlain is ‘n bekwame doelskopper wat ook heelagter kan speel. Red Bull se oorname van die sukkelende Newcastle is sy eerste toetrede tot rugby, maar hy het reeds noemenswaardige belange in sokker en motorsport.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-437-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….