Nuus 14:00
BULLETIN 20 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regterlike kommissie oor Mkhwanazi se bewerings begin op 1 September met verhore in Pretoria
# Inflasie styg tot ‘n 10-maande-hoogtepunt in Julie
# En Israel se minister van Verdediging keur die oorname van Gaza-stad goed
# Die Madlanga-regterlike kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel sal op 1 September met sy verhore begin. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, sê die eerste sitting sal na verwagting oop wees vir die publiek en sal in die Bridgette Mabandla-kollege in Pretoria se middestad plaasvind, waar die kommissie se kantore ook geleë sal wees. Woordvoerder Jeremy Michaels sê openbare voorleggings is nog nie oopgestel nie.
# Die Landdroshof in Alexandra, Gauteng, het die sakeman Katiso ‘KT’ Molefe borgtog geweier toe hy verskyn het in verband met die sluipmoord op Oupa ‘DJ Sumbody’ Sefoka in 2022. Molefe staan tereg op onder meer moord en sameswering om moord te pleeg. Landdros Renier Boshoff het beslis dat hy nie bewys kon lewer van uitsonderlike omstandighede waarom hy borgtog moes kry nie. Sy drie mede-beskuldigdes bly ook agter tralies. Boshoff het verwys na selfoonbewyse wat Molefe aan die medebeskuldigdes koppel:
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het in Julie tot ‘n tien-maande hoogtepunt van 3,5-persent gestyg, nadat dit in Junie drie-persent was. Huishoudelike voedselbegrotings bly onder druk, met voedsel en nie-alkoholiese drankies wat tot 5,7-persent verhoog het. Beesvleispryse het die afgelope jaar met bykans 29-persent gestyg, terwyl groente 14,6-persent duurder is. Ricado Johnson van Statistieke Suid-Afrika sê daar was wel geringe verligting met koffie, eiers en sekere melkprodukte wat goedkoper geword het:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, het die Weermag goedkeuring verleen om Gaza-stad oor te neem en magtiging gegee vir die oproep van ongeveer 60-duisend reserviste. Die ministerie het berigte hieroor in die plaaslike media bevestig. Dit plaas druk op Hamas terwyl bemiddelaars wag op amptelike Israelse reaksie op hul jongste skietstakings-voorstel. Een van die bemiddelaars, Katar, is versigtig optimisties oor die jongste voorstel, maar ‘n senior Israelse amptenaar sê hulle dring steeds aan op die vrylating van alle gyselaars as deel van enige ooreenkoms.
# Krieket: Toets-kaptein Shubman Gill is ingesluit in Indië se T20-groep vir volgende maand se Asië-bekertoernooi nadat hy weggelaat is uit drie vorige reekse in die kortste formaat. Hy is terug in die 15-man-groep as adjunk vir kaptein Suryakumar Yadav, danksy sy uitstekende vertoning met die kolf in die onlangse toetsreeks teen Engeland. Agt lande neem aan die toernooi deel, die eerste grote in die aanloop tot die T20-Wêreldbekertoernooi in Februarie en Maart volgende jaar in Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-611-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….