Nuus 14:00
BULLETIN 15 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie vra opleiding in rasse-sensitiwiteit ná die Open Chat-verontwaardiging
# Duitsland vra Israel om die bou van nedersettings aan die Wesoewer te staak
# En rugby: ‘n Laat verandering aan die Bokspan vir môre se toets teen die Wallabies
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, versoek verpligte opleiding in rasse-sensitiwiteit vir die aanbieders van die Open Chats-potgooi nadat neerhalende opmerkings teenoor bruin mense verontwaardiging veroorsaak het. Sinothando Kama en Mthokozisi Mathebula het die gemeenskap gekoppel aan bloedskending en geestelike onbestendigheid. McKenzie veroordeel die opmerkings as haatspraak, maar sê hy verkies onderrig en wil nie hê die aanbieders moet tronk toe gestuur word of misdaadrekords kry nie:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê munisipaliteite behoort noodwaterverspreiding met tenkwaens in te kontrakteer om die watermafia te beperk. Sy het op die Afrika-Unie Waterbeleggingsprogram in Kaapstad gevra dat diegene wat waterinfrastuktuur saboteer, van verraad aangekla moet word. Majodina waarsku dat sulke dade die watertoevoer na 63-mijoen mense in gevaar stel. De minister moedig munisipaliteite aan om waterverspreiders te registreer en te lisensieer om gehalte en veiligheid te verseker en die misdadige misbruik van waterdienste te voorkom:
# Onderrig en leerwerk is ontwrig by skole in Lotusrivier in Kaapstad ná waarskuwings oor moontlike gewelddadige bende-gevegte nadat ‘n man Woensdag doodgeskiet is. Ouers het gister hul kinders vroeg gaan haal en skolevervoer het voor skedule vertrek. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het bevestig skole is as ‘n veiligheidsmaatreël gesluit en ouers word aangeraai om slegs op amptelike inligting staat te maak. Patrollies word gedoen en die departement waarsku onbevestigde boodskappe moenie op sosiale media versprei word nie om paniek te voorkom.
Nuus uit die buiteland:
# Duitsland vra die Israelse regering om die bou van nedersettings aan die Wesoewer te staak. Die volg nadat Israel se ver-regse minister van Finansies, Bezalel Smotrich, aangekondig het dat bouwerk binnekort sal begin aan duisende huise wat die Palestynse gebied sal verdeel. Duitsland se Ministerie van Buitelandse Sake het in ‘n verklaring die Israelse regering se goedkeuring van die ontwikkeling veroordeel. Hy sê ook sulke optrede sal dit ingewikkelder maak om ‘n onderhandelde twee-staat-oplossing en die einde van Israel se besetting van die Wesoewer te bereik.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus moes op die nippertjie ‘n verandering aanbring aan sy span wat Australië môre in hul eerste Rugbykampioenskaps-kragmeting op Ellispark pak. Jan-Hendrik Wessels moes onttrek nadat hy Woensdag tydens oefening ʼn ligte besering opgedoen het, en die stut Boan Venter sal vir hom instaan. Venter, Bongi Mbonambi en Asenathi Ntlabakanye is die voorry-spelers op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-23-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….