Nuus 14:00
BULLETIN 13 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom het 5,8-miljard-rand se diesel verbrand om die kragnetwerk te beskerm
# COPE eis die uitstel van die Nasionale Dialoog
# En Trump se administrasie hersien museumuitstallings om verdelende en partydige vertellings te verwyder
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom het diesel strategies gebruik om die netwerk bestendig te maak gedurende die winter-spitstyd of wanneer eenhede onklaar geraak het. Hy bevestig dat ongeveer 5,8-miljard-rand van die dieselbegroting van 12-miljard-rand tot dusver bestee is, wat minder is as die 14,8-miljard-rand vir dieselfde periode verlede jaar. Ramokgopa sê die verbeterde aanleg-werkverrigting het soms ‘n oorskot kragopwekking tot gevolg gehad, wat die ekonomie saam met bestendige kragvoorsiening beweegruimte gee om te groei:
# COPE ondersteun in beginsel ‘n Nasionale Dialoog om Suid-Afrika se uitdagings te bespreek en eenheid te bevorder, maar verwerp Vrydag se haastig-beplande Nasionale Konvensie. Die waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, sê COPE eis ‘n uitstel, behoorlike raadpleging, billike verteenwoordiging en die belofte om ‘n omvattende posisiedokument te deel waarin ‘n werklik inklusiewe nasionale dialoog uiteengesit is:
# Die ANC se parlementêre koukus sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se besluit om die BELA-wet se regulasies deur ‘n geleidelike proses bekend te maak, is verregaande. Die minister het verlede week die eerste twee regulasies ingevolge die wet vir openbare kommentaar uitgegee. Die regulasies hou verband met belangrike kwessies soos skooltoelating. Tshepo Louw van die ANC sê hulle gaan nie toelaat dat kinders se toekoms deur burokratiese speletjies en politieke huiwering belemmer word nie:
# Atletiek: Die Amerikaanse Olimpiese medaljewenner, Fred Kerley, is voorlopig geskors omdat hy na bewering opkikkertoetse misgeloop het. Volgens die kode van die Wêreldagentskap teen Opkikkergebruik mag ʼn atleet nie meer as drie opkikkertoetse in 12-maande misloop nie. Kerley se regspan sê hy gaan die bewering betwis omdat een of meer van die vermeende oortredings tersyde gestel moet word. Hulle sê dis omdat hy nie nalatig was nie of omdat die opkikkerbeheer-beampte nie gedoen het wat onder omstandighede redelik was om hom by sy aangeduide bestemming te besoek nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-339-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-47-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie neem beheer oor van museumuitstallings. ‘n Omvattende hersiening van sekere Smithsonian-museums is gelas om te verseker uitstallings prys Amerikaanse uitsonderlikheid en verdelende of partydige vertellings word verwyder. Trump het sedert die begin van sy tweede termyn in Januarie beheer begin uitoefen oor groot Amerikaanse kulturele instellings en ook die befondsing vir kuns en geesteswetenskappe gesny. Die instelling se sekretaris, Lonnie Bunch, is ingelig die administrasie sal ‘n omvattende interne hersiening van sekere Smithsonian-museums en -uitstallings uitvoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….