Nuus 14:00
BULLETIN 11 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die organiseerders beloof ‘n koste-doeltreffende benadering tot nasionale dialoog-aangeleenthede
# Ramaphosa en sy ministers kan persoonlike koste-eise verwag weens die ineenstorting van ‘n munisipaliteit in Noordwes
# En rugby: Siya Kolisi voer die Springbokke teen die Wallabies aan met die nommer agt op sy rug
# Die organiseerders van die nasionale dialoog sê hulle hou koste laag vir die eerste nasionale konvensie, met vergaderplekke, vervoer en dienste wat gratis voorsien word deur die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria en ander vennote. Die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad en die begroting van die Presidensie dek die byeenkoms se hoofkostes. Die woordvoerder van die konvensie, Zwoitwaho Nevhutalu, sê die benadering is om die druk op die staatskas te verlaag en breë deelname te verseker:
# Sakeliga waarsku hy sal persoonlike koste-eise teen president Cyril Ramaphosa en sy ministers instel as hulle nie optree om die ineenstorting van die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes te verhoed nie. Uitvoerende hoof Piet le Roux sê die nasionale regeirng het sy grondwetlike pligte ignoreer ondanks versoeke van die LUR van Samewerkende Regering, Oageng Molapisi. Nodige dienste soos water en elektrisiteit het ineengestort. Le Roux sê Ramaphosa het tot Vrydag om in te gryp:
# Green Connection het kommer uitgespreek oor die bekostigbaarheid van kernkrag, veral die kapitale koste vooraf, die risiko van vertraging tydens bouwerk en die buitensporige koste wat wêreldwyd ondervind is. Dit volg op die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, se besluit om by die goedkeuring van 2017 te staan om ‘n nuwe vier-gigawatt kernkragstasie in Duynefontein in die Wes-Kaap te bou en te bedryf. Liziwe McDaid van Green Connection sê die regering se eienaardige bekoring met kernkrag wek kommer:
# Rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi sal die nommer agt-trui dra in Saterdag se Rugbykampioenskaps-openingswedstryd teen die Wallabies op Ellispark in Johannesburg. Dit is die eerste keer wat hy die span sal aanvoer van die agterkant van die skrum. Aphelele Fassi begin op heelagter, André Esterhuizen is binnesenter en Manie Libbok losskakel. Eben Etzebeth en Lood de Jager is die slotpaar. Die Bokafrigter, Rassie Erasmus, verwag ‘n uitdagende wedstryd nadat Australië onlangs die Britse en Ierse Leeus geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-330-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-36-sent per vat.
# En laastens: Indië se Hoërhof het gelas dat duisende rondloperhonde uit die hoofstad, Delhi, verwyder moet word ter wille van openbare veiligheid na ‘n skerp styging in gevalle van hondebyte. Die jongste beskikbare data, 2012 se diere-sensus, toon minstens 60-duisend rondloperhonde bly in Delhi se strate. Sekere mense is van mening die getal is nou baie hoër, met reuse-mededingende hondetroppe in parke en woonbuurte. Die hof het stadsowerhede gevra om binne agt weke hondeskuilings op te rig en daaglikse rekords te hou van die honde wat gevang word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….