Nuus 14:00
BULLETIN 6 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padverkeersagentskap bevestig die strafpuntstelsel sal in Desember in werking tree
# ‘n Forum beskuldig die SABC van vergelding nadat ‘n joernalis glo afgedank is oor haar eis vir agterstallige betaling
# En Israel se minister van Verdediging sê die gewapende magte sal opdragte moet uitvoer
# Die Padverkeersoortredingsagentskap sal vanaf 1 Desember begin met die inwerkingstelling van die langverwagte strafpuntstelsel, met die aanvanklike inwerkingtreding by 69 munisipaliteite. Die woordvoerder, Monde Mkalipi, het aan Newzroom Afrika gesê ‘n verdere 144 munisipaliteite sal vanaf 1 April volgende jaar volg. Die stelsel teiken ernstige padoortredings wat met hoë padsterftes verband hou. Mkalipi beklemtoon herhaalde oortreders kan hul lisensies verloor maar ‘n boetekorting van 50-persent en geskilbeslegtings-meganisme sal beskikbaar wees:
# Die Activists and Citizens Forum sê die SABC skend werkers se regte nadat die veteraanjoernalis Mercedes Besent afgedank is. Die forum beweer die verteenwoordiger van die Kommunikasiewerkersvakbond is afgedank omdat sy uitstaande agterstallige betalings namens werkers opgevolg het. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, versoek die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, en die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie om die bewerings dringend te ondersoek en die uitsaaier se integriteit te herstel:
# Inwoners van die Groter Frances Baard-distrik in die Noord-Kaap het tydens openbare verhore in Kimberley die Wetsontwerp op Huwelike se verbintenis tot geslagsgelykheid bevraagteken. Kommer bestaan oor die weglating van poligame huwelike, onvoldoende beskerming vir godsdienstige leiers en die gebrek aan erkenning van Islamitiese huwelike. Daar is ook gevra vir hersienings om godsdienstige besware en LGBTQI+-regte te beskerm. Tradisionele leiers verwelkom die erkenning van gewoontereg-huwelike, terwyl sekere godsdienstige groepe beswaar gemaak het teen klousules ten opsigte van selfde-geslag-huwelike, met verwysing na teenstrydige oortuigings.
Nuus uit die buiteland:
# Die Israelse minister van Verdediging, Israel Katz, sê die stafhoof van die Leër, Eyal Zamir, kan sy menings uitspreek, maar die gewapende magte moet steeds alle regeringsbesluite oor Gaza uitvoer. Katz se verklaring op X volg nadat berigte aangedui het dat Zamir gekant is teen die regering se plan om die Gazastrook ten volle te beset. Israelse media berig Netanyahu sal môre sy veiligheidskabinet byeenroep om ‘n finale besluit te neem oor die volgende stappe in die oorlog in die Palestynse gebied.
# Olimpiese Spele: Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy het gedink die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese Komitee sou sonder sy invloed optree teen transgender atlete wat aan vrouesport deelneem. Hy het ‘n uitvoerende bevel onderteken vir die skepping van ‘n taakmag in die Withuis om die federale regering se voorbereidings vir 2028 se Spele in Los Angeles te koördineer. Trump sê daar sal verpligte geslagstoetse in vrouesport wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-903-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….