Nuus 14:00
BULLETIN 5 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die petrolprys daal om middernag, maar die dieselprys verhoog weer
# Die Universiteit Stellenbosch bevestig meningokokkale meningitis as oorsaak van student se dood
# En alles is op dreef vir volgende jaar se Olimpiese en Paralimpiese Winterspele in Italië
# Die prys van 93- en 95-oktaan petrol daal om middernag met 28-sent per liter. Die prys het verlede maand met 52-sent gestyg. Die slegte nuus is egter dat die dieselprys met tot 65-sent per liter styg. Dit volg op die verhoging van 82-sent per liter verlede maand. Die prys van lampolie verhoog met 43-sent per liter. Vloeibare gas se prys daal met 78-sent per kilogram in die Wes-Kaap en 69-sent in die res van die land.
# Die Universiteit Stellenbosch het bevestig dat ‘n tweedejaar-teologiestudent, Chris Scheffers, dood is aan meningokokkale meningitis. Sy liggaam is die naweek in sy kamer in die Dagbreek-koshuis ontdek. Beamptes van die universiteit sê kontakopsporing is onderweg om persone te indentifieer wat gedurende die laaste tien dae noue kontak met Scheffers gehad het. Voorkomende medikasie sal ook binne 24-uur versprei word. Die universiteit sê geen verdere gevalle is bevestig nie en hulle sal alle kontakte noukeurig dophou. Alle algemene geleenthede by die koshuis is uitgestel.
# ‘n Ses-en-twintigjarige sekerheidswag is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 14-jarige meisie in Roodepoort, Gauteng. Mpho Antonio Lebona, wat ‘n woonkompleks moes bewaak, het die meisie in Januarie 2021 verkrag. Hy het beweer sy het toestemming gegee. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, sê landdros Thelma Simpson het lewenslange tronkstraf as die enigste gepaste vonnis beskou, wat die hof se verbintenis tot geregtigheid vir sulke gruweldade weerspieël:
‘n Sewe-en-dertigjarige beweerde aanlyn afspraak-reeksverkragter en -moordenaar wat aan meer as tien sake in Eersterust, Pretoria, verbind word, is intussen in Limpopo in hegtenis geneem. Die man het na bewering ‘n gewilde afspraak-webwerf gebruik om sy vroulike slagoffers na sy woning te lok. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê hy het na bewering sommige van sy slagoffers verkrag, tot die jongse voorval toe die slagoffer verkrag en vermoor, en in ‘n vlak graf begrawe is:
# Olimpiese Spele: Die reëlingskomitee vir volgende jaar se Milaan-Cortina Olimpiese en Paralimpiese Winterspele in Italië sê voorbereidings vorder goed en tydig. Die Olimpiese openingseremonie is op 6 Februarie, en die Paralimpiese Spele open op 6 Maart. Die Spele maak gebruik van ‘n magdom bestaande persele om kostes te bespaar. Die komitee se uitvoerende hoof, Andrea Varnier, sê net soos met enige ingewikkelde wêreldgeleentheid is uitdagings deel van die proses, maar hulle beweeg vol vertroue voort:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-743-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….