Nuus 14:00
BULLETIN 1 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof om werksgeleenthede te beskerm te midde van die dreigende Amerikaanse tariewe
# Die DA sê die waarnemende minister het ‘n reuse-taak om ‘n gebroke Polisiediens te herstel
# En rugby: Baie is op die spel in die laaste toets tussen die Wallabies en die Leeus
# President Cyril Ramaphosa het dringende ondersteunende maatreëls aangekondig om Suid-Afrikaanse ondernemings en werksgeleenthede te beskerm teen die uitwerking van dreigende Amerikaanse tariefverhogings. Ramaphosa het in die Uniegebou gesê Suid-Afrika se posisie as Afrika se grootste ekonomie en nywerheidsekonomie veroorsaak dat die land ‘n potensiële teiken is. Hy het ‘n tweeledige benadering bevestig, naamlik moeilike onderhandelings met Amerika en sektor-spesifieke ingrypings in belangrike uitvoergebiede:
# Die DA sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ‘n geweldige uitdaging om ‘n gebroke Polisiediens te herstel wat nie vertrou word nie. Hy waarsku dat die publiek se vertroue in die polisie op ‘n laagtepunt is as gevolg van politieke inmening, wanbestuur en diep-gewortelde korrupsie. Ian Cameron van die DA sê Cachalia moet van die eerste dag af beslissend optree om professionalisme te herstel, veiligheid te verbeter en die publiek se vertroue te herwin:
# Statistieke SA sê sake-likwidasies was in Junie sewe-persent hoër as ‘n jaar gelede. Maatskappy-sluitings het met agt-persent gestyg, terwyl likwidasies van beslote korporasies met een-persent gestyg het. Onica Mushwana van Stats SA sê daar was in die eerste helfte van die jaar ‘n geringe algehele daling van een-persent in algehele likdwidasies in vergelyking met die eerste ses maande van verlede jaar.
# Rugby: Baie is steeds op die spel in môre se laaste toets tussen die Wallabies en die Britse en Ierse Leeus in Sydney al het die besoekers reeds die reeks beklink. Die Wallabies wil hul eer herwin nadat hulle in die tweede toets in Melbourne ‘n voorsprong van 23-5 verbeur het. Die besoekers probeer die eerste Leeu-span word om 3-0 te wen, en die eerste om ‘n toer onoorwonne af te sluit sedert die Onoorwinlikes in 1974 die Springbokke drie keer geklop het voor die vierde toets gelykop geëindig het.
# Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-40-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-294-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Amerika se gewese visepresident, Kamala Harris, het ‘n boek geskryf met die titel, 107 Days. Dit gee ʼn kykie agter die skerms van haar ervaring tydens die kortste presidentsveldtog in moderne geskiedenis. Die boek handel oor haar veldtog vandat oudpresident Joe Biden aan die wedloop onttrek het tot president Donald Trump se oorwinning in November. Harris sê die boek is baie persoonlik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….