Nuus 14:00
BULLETIN 30 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bain se ontrekking is ‘n aanduiding van die nagevolge van die staatskapingsera
# Klimaatbefondsing moet insluiting aanvuur in wêreldwye energie-oordrag
# En 15 Westerse nasies vra dat lande wêreldwyd ‘n Palestynse staat erken
# Bain and Company gaan sy raadplegings-onderneming in Suid-Afrika sluit as gevolg van die nimmer-eindigende stigma wat veroorsaak is deur sy rol in die staatskaping-skandaal gedurende die presidentskap van Jacob Zuma. Bain het na omstrede werk vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en ‘n regeringsverbod gesukkel om vertroue te herwin en kliënte en skeppende talente verloor. Die kantoor in Johannesburg sal behoue bly as ‘n globale dienstesentrum, maar sal nie meer plaaslike dienste aanbied nie. Die skandaal het steeds ‘n nadelige invloed op sy plaaslike reputasie en vennootskappe.
# Die G20 se Energie-oordrags-werkgroep in Sun City, Noordwes, is aangespoor om klimaatbefondsing te vermeerder om die energiekrisis te beëindig. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, bepleit dat beloftes verander na gekoördineerde beleggings. Hy vra ook befondsing van transmissie, verspreiding en buigsame opwekking, sowel as ondersteuning vir klein, medium en mikro organisasies en projekte in ‘n vroeë stadium. Ramokgopa beklemtoon klimaatbefondsing moet inklusief word en moet diegene wat dit die nodigste het teen die vereiste skaal en spoed bereik:
# Die Suid-Afrikaanse Rietsuikerprodusente-vereniging sê die suikernywerheid kan vanjaar na ‘n beter oes uitsien, met ‘n verwagte opbrengs van 18-miljoen-ton suikerriet wat ‘n verbetering is van die 16-miljoen-ton van verlede jaar. Die organisasie waarsku egter dat die nywerheid steeds kwesbaar is met die vertragings in die verhoging van invoertariewe en ‘n moontlike heffing van 30-persent op uitvoere na Amerika. Voorsitter Higgins Mdluli moedig die regering aan om vinnig op te tree om plaaslike produsente te beskerm en handelsooreenskomste te sluit:
# Vyftien Westerse lande vra ander lande om ‘n Palestynse staat te erken. Ministers van Buitelandse Sake het na ‘n vergadering in New York ‘n gesamentlike verklaring uitgereik wat die twee-staat-oplossing weer laat opleef. Frankryk se president, Emmanuel Macron, het verlede week aangekondig dat hy Palestina se staatskap in September amptelik sal erken, wat sterk kritiek van Israel en Amerika ontlok het. Eerste minister Keir Starmer het ook aangekondig dat Brittanje Palestina sal erken tensy Israel daadwerklike stappe doen, insluitend om tot ‘n wapenstilstand in Gaza in te stem.
# Krieket: Die veelsydige Mitch Owen kan dalk sy buiging in internasionale eendagkrieket maak nadat hy ingesluit is in Australië se witbal-groepe vir volgende maand se tuis-reeks teen Suid-Afrika. Die 23-jarige Owen het beïndruk in die T20-reeks teen die Windies toe hy 125 lopies aangeteken en twee paaltjies platgetrek het. Die sleutelspelers Travis Head en Josh Hazlewood keer ook terug terwyl Mitchell Starc ‘n blaaskans vat. Mitchell Marsh sal instaan as eendag-kaptein in Pat Cummins se plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-286-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….