Nuus 14:00
BULLETIN 29 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tiffany Meek word borgtog geweier in haar seun se moordsaak
# ‘n Voormalige munisipale bestuurder van KwaZulu-Natal verskyn in die hof vir moord
# En minister Hlabisa vra ‘n toegewese polisie-eenheid om munisipale korrupsie en politieke moorde te bestry
# Die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, het borgtog geweier aan Tiffany Meek, wat aangekla word van die moord op haar 11-jarige-seun, Jayden-Lee. Landdros Anneline Africa het verwys na sterk omstandigheidsgetuienis, oneerlike optrede en ‘n vlugrisiko. Die hof het kennis geneem dat Meek Jayden-Lee as vermis aangegee het terwyl sy geweet het dat hy in hulle woonstel was en later sy liggaam verskuif het. Die regter het beslis dat haar vrylating openbare vertroue en vrede sal ondermyn:
# Die voormalige munisipale bestuurder van uMzimkhulu in KwaZulu-Natal, Zweliphansi Skhosana, het vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn vir sy beweerde rol in die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga, Sindiso Magaqa, in 2017. Magaqa is na bewering geteiken oor die onthulling van korrupsie met ‘n munisipale tender. ‘n Huurmoordenaar is skuldig bevind en twee ander beskuldigdes sal in Oktober in die hof verskyn. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak teen Skhosana is uitgestel tot Vrydag:
Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, vra intussen ‘n toegewese polisie-eenheid om munisipale korrupsie en politieke moorde te bestry. Hy het aan Newzroom Afrika gesê hy verwelkom Skhosana se inhegtenisneming. Hlabisa sê korrupsie benadeel steeds dienslewering:
# Swem: Die 12-jarige Chinese skoolmeisie, Yu Zidi, is deur haar mededingers as besonder talentvol beskryf nadat sy net-net ‘n bronsmedalje misgeloop het op die wêreldkampioenskap in Singapoer. Yu het vierde klaargemaak in die vroue se 200-meter-individuele-wisselslag in haar eerste wêreldkampioenskaps-eindronde. Sy het die bronsmedalje met 0,06-sekondes misgeloop. Yu was vinnig van die blokke af en het derde gebly totdat sy teen die einde teruggesak het. Sy sal ook aan die 400-meter wisselslag en die 200-meter vlinderslag deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-702-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-65-sent per vat.
# En laastens: Die rampspoedige oorstromings in Durban in April 2022 wat 544 lewens geëis het, is deur klimaatsverandering vererger. Dit is volgens ‘n nuwe studie van die Universiteit van die Witwatersrand. ʼn Klimaatbydrae-model op kilometer-skaal is gebruik. Dit boots die storm na in vandag se warmer klimaat teenoor ʼn wêreld sonder mensgemaakte aardverwarming. Drie belangrike faktore wat groter reënval veroorsaak is geïdentifiseer. Dit is ʼn warmer atmosfeer wat veroorsaak word deur kweekhuisgasse, die Agulhas-seestroom wat die afgelope dekades warmer geword het en veranderings in windpatrone wat meer vogtige lug oor KwaZulu-Natal invoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….