Nuus 14:00
BULLETIN 28 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Madlanga verstrek vandag inligting oor die kommissie van ondersoek na Mkhwanazi se bewerings
# die DA verwerp ‘n plan om die Pretoriase stadsaal in ‘n Iranse kultuursentrum te omskep
# En krieket: Indië se paaltjiewagter gaan die vyfde toets teen Engeland misloop met ‘n gebreekte voet
# Die waarnemende adjunkhoofregter, Mbuyiseli Madlanga, sal vandag besonderhede gee oor die kommissie van ondersoek na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings van politieke inmenging in ondersoeke. President Cyril Ramaphosa het Madlanga aangewys as voorsitter van die ondersoek na vermeende indringing deur misdaad-sindikate in wetstoepassing. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die adjunkkommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, is op spesiale verlof geplaas. Intussen sal die Konstitusionele Hof Donderdag ‘n spesiale sitting vir Madlanga hou voor sy amptelike aftrede.
# Die DA in Tshwane is gekant daarteen om enigsins die Pretoriase stadsaal aan Iran te verkoop, te verhuur of te skenk vir ‘n kultuursentrum. Die koukusleier, Cilliers Brink, sê Iran stel nie belang om die landmerk op te knap nie, maar wil slegs munisipale eiendom bekom. Brink waarsku dat hierdie stap diplomatieke bande met Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot, Amerika, kan skaad. Hy beklemtoon dit stel nasionale belange in gevaar vir beperkte politieke gewin:
# Die bestuurder van ‘n skoolvervoervoertuig is in Wesparkrylaan in Randburg, Gauteng, in hegtenis geneem vir dronkbestuur na ‘n botsing. Die Johannesburgse Metropolisie sê die bestuurder wou ‘n voertuig verbysteek toe hy beheer verloor het. Woordvoerder Xolani Fihla sê 12 leerders is beseer en na verskeie mediese inrigtings geneem vir behandeling:
# Krieket: Indië se paaltjiewagter, Rishab Pant, sal die vyfde en laaste toets teen Engeland misloop. Daar is bevestig dat hy sy voet gebreek het in die vierde toets op Old Trafford. Hy is in die eerste beurt van die veld maar het later teruggekeer en ‘n merkwaardige vyftigtal aangeteken. Pant het in Engeland se tweede beurt net veldwerk gedoen en nie gekolf in sy span se tweede beurt nie toe hulle ingegrawe het om ‘n onbesliste uitslag af te dwing. Engeland loop 2-1 voor in die reeks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-945-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-42-sent per vat.
# En laastens, SANParke het afgesluit met ‘n reeks fokusgroep-slypskole oor die vorming van Tafelberg Nasionale Park onder die nuwe tienjaar Parkbestuursplan en die Mariene Beskermde Gebiedsplan van 2027 tot 2036. Chand Environmental Consultants het die slypskole gelei en die beskerming van mariene gebiede, kulturele erfenis, maatskaplik-ekonomiese transformasie en bioverskeidenheid is bespreek. SANParke sê in ‘n verklaring kenners het die hoofprioriteite uitgelig, insluitend klimaatsverandering, werkskepping en erfenisbewaring. Openbare betrokkenheid sal volg soos die plan vorder, met die doel om die park se ekologiese, kulturele en ekonomiese toekoms te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….