Nuus 14:00
BULLETIN 9 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekonome waarsku die suikerbedryf worstel teen ‘n toenemende krisis
# Zimbabwiese matrieks keer terug na Suid-Afrika vir hul eindeksamen
# En krieket: Australië wil die Melbourne Renegades aan privaat beleggers verkoop
# Ekonome waarsku Suid-Afrika se suikerbedryf ondervind toenemende druk weens goedkoop invoere, die sluiting van suikermeulens en koste-stygings. Meer as ‘n miljoen mense is afhanklik van die bedryf, wat sowat 270-duisend regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede ondersteun. Oxford Economics se ekonoom, Jee-A van der Linde, sê Tongaat Hulett het likwidasie vrygespring danksy staatsgesteunde finansiële hulp, maar ander produsente sukkel steeds. Sy sê al het die regering invoertariewe op suiker verhoog, vra suikerrietprodusente nog hervormings, insluitend verdere optrede teen invoere, beter elektrisiteits- en spoordienste en die bespoediging van biobrandstof- en kragopwekkingsplanne.
# Die EFF se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Tlaleng Mofokeng, sê die stad het vergeet van sy mandaat en dompel inwoners in ‘n bestuurskrisis. Sy het tydens ‘n debat op SABC-TV oor die komende plaaslike regeringsverkiesing gesê dienslewering het in duie gestort, infrastruktuur het agteruitgaan en aanspreeklikheid ontbreek. Mofokeng sê dringende ingryping word benodig om Johannesburg te herbou en openbare vertroue te herstel:
# Graad 12-leerders van Zimbabwe wat Suid-Afrika verlaat het ná die immigrasie-sperdatum van 30 Junie, word teruggebring om hul matriek-eindeksamen te skryf. Die koördinerende komitee vir Zimbabwiese vrystellingspermitte sê die leerders sal in ‘n koshuis in Johannesburg tuisgaan voor die eksamen, wat volgende maand begin. Sowat 35-duisend leerders het volgens berigte tussen Mei en September saam met hul ouers teruggekeer Zimbabwe toe te midde van deportasies en spanning oor immigrasie. Die akademie versoek leerders om hierdie week terug te keer sodat hul kan voorberei.
# Dokters sonder Grense waarsku besnoeiings aan befondsing lei tot die grootskaalse sluiting van klinieke in Soedan, wat beteken pasiënte het nog minder toegang tot gesondheidsorg. Die internasionale mediese humanitêre organisasie vra regerings en skenkers om befondsing vir noodsaaklike gesondheidsdienste te beskerm terwyl sowat 33,7-miljoen mense humanitêre hulp benodig. Die direkteur van Verenigings in Suider-Afrika, Monica Genya, sê die oorlog vererger die behoefte, maar befondsingsbesnoeiings beperk die reaksie daarop:
# Krieket: Australië wil privaat belegging in sy winsgewende Big Bash T20-liga vanaf die 2027/28-seisoen bekendstel, beginnende met die verkoop van Melbourne Renegades. Krieket Australië sê afhangende van die uitkoms, sal hulle oorweeg om ander klubs op die mark te plaas onder ‘n selfbeskikkingsmodel. Renegades, wat die kompetisie in die 2018/19-seisoen gewen het, behoort tans aan die beheerliggaam van die regering van die staat Victoria. Reuters berig Krieket Australië het gehoop om tot 6,9-miljard-rand uit sy aanvanklike privatiseringsplan in te samel nadat hulle vroeër ‘n groot netto tekort aangeteken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-24-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-394-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….