Nuus 14:00
BULLETIN 23 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie styg tot drie-persent in Junie, aangevuur deur stygende voedselpryse
# Die Ingenieursraad straf ‘n ingenieur oor die instorting van ‘n gebou in George
# En rugby: Rassie nooi drie Junior Springbokke om saam met die seniors te oefen
# Verbruikersprysinflasie het in Junie tot drie-persent gestyg van 2,8-persent in April en Mei. Die styging is hoofsaaklik toe te skryf aan stygende voedselpryse, met voedsel en nie-alkoholiese drankies wat ‘n 15 maande-hoogtepunt van 5,1-persent aangemeld het. Beesvleis is die grootste bydraer met kookvleispryse wat jaarliks met meer as 21-persent gestyg het. Bek- en klouseer raak verskaffing. Ricado Johnson van Statistieke Suid-Afrika sê brandstofpryse daal egter steeds:
# Die Ingenieursraad van Suid-Afrika het ‘n ingenieur formeel aangekla en permanent gederegistreer nadat hy verbind is met die noodlottige gebou-instorting in George in die Wes-Kaap in Mei verlede jaar. Die tragedie het 34 lewens geëis en talle mense is beseer. Die raad se dissiplinêre tribunaal het die ingenieur skuldig bevind op vyf aanklagte van professionele wangedrag en die maksimum-straf opgelê. Die bevindinge is ook na die polisie verwys vir strafregtelike ondersoek. Die raad het sy verbintenis tot openbare veiligheid en ingenieurs-verantwoordbaarheid herbevestig.
# Die Mededingingstribunaal het Canal-Plus (Kanaal Ploes) se verkryging van MultiChoice goedgekeur, wat die laaste regulatoriese struikelblok oorkom. Die ooreenkoms sluit sleutelverbintenisse in soos die bevordering van plaaslike eienaarskap, die ondersteuning van klein, medium en mikro-ondernemings in die oudiovisuele sektor, en die befondsing van plaaslike inhoud. Canal-Plus sal die oorblywende aandele teen 125-rand elk koop. Canal-Plus se uitvoerende hoof, Maxime Saada, en MultiChoice se uitvoerende hoof, Calvo Mawela, het die besluit verwelkom as ‘n belangrike stap in die hervorming en uitbreiding van Afrika se medialandskap.
# Die GOOD-party sê hulle het die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap en die Valke gevra om ‘n bedrieglike skema in die Wes-Kaap te sluit. Volgens die party word honderde inwoners van Worcester en Rawsonville sonder hulle medewete geregistreer vir die Maatskaplike Hulpverligtingstoelaag van 370- rand per maand, en sonder dat hulle enige geld ontvang. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hulle het ‘n klagte by SASSA en die Valke ingedien, met ‘n dossier van 34 beëdigde verklarings van slagoffers van dié slenter:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het drie spelers van die seëvierende Junior Springbokspan genooi om saam met die groep van 37 spelers vir die eerste twee Rugbykampioenskapswedstryde teen Australië te oefen. Die Baba-Bokke het pas Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap gewen. Bathobele Hlekani, Cheswill Jooste en Haashim Pead sal by die senior groep aansluit vir die voorbereidingskamp van twee weke wat Sondag in Johannesburg begin, sodat hulle aan die Springbok-kultuur kan gewoond raak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-297-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-423-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….