Nuus 14:00
BULLETIN 18 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer minister Nkabane oor haar afwesigheid van ‘n belangrike parlementêre vergadering
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris vra die publiek om nie sy foto’s tydens optogte te gebruik nie
# En tennis: Suid-Afrika se Davisbeker-span pak Marokko in September in Pretoria
# Die DA sê die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, kan nie weghardloop of wegkruip vir die Parlement of die wet nie. Nkabane was nie vandag op ‘n belangrike parlementêre komiteevergadering oor haar beweerde ontplooiing van ANC-kaders na rade van Sektor-onderwys- en Opleidingsowerhede nie. Die DA-lid, Karabo Khakhau, sê ondanks ANC-beskerming, sal die party nie toelaat dat die minister die gevolge van die misleiding van die Parlement vermy nie:
# Die provinsiale polisiekommissaris van KwaZulu-Natal vra die publiek om nie foto’s van hom gedurende polities-gedrewe optogte te gebruik nie, veral die wat teen die president beswaar maak. Woordvoerder Robert Netshiunda waarsku dat alle sosiale media-rekeninge waarop Mkhwanazi se naam en foto’s verskyn, vals is. Hy sê dit word gebruik om die publiek te kul om te dink die provinsiale kommissaris gebruik hierdie platforms vir kommunikasie:
# Twee beskuldigdes het in die Alexandra-landdroshof in Gauteng verskyn op aanklagte van bedrog by Capitec Bank. Die bank het tussen November 2023 en Januarie verlede jaar ‘n onverklaarbare stelsel‑fout ervaar, waartydens ’n kliënt – een van die beskuldigdes – dit na bewering opgemerk en meer as ses-miljoen rand in sy sake-rekening en kredietkaart inbetaal het. Thatohatsi Mavimbela van die Valke sê die beskuldigdes het die geld na bewering na verskeie ander bankrekeninge oorgeplaas en twee voertuie aangekoop, wat gelei het tot ’n daadwerklike verlies van meer as vier-miljoen rand.
# Tennis: Suid-Afrika se Davisbekerspan sal in September na Pretoria terugkeer vir hulle Wêreldgroep Twee-kragmeting met Marokko. Die kragmeting sal op die Groenkloofklub plaasvind waar Suid-Afrika in Februarie vir Nigerië 3-1 verslaan het in die uitspeelronde. Die wenner sal speel om bevordering na Wêreldgroep Een, terwyl die verloorder in die uitspeelronde vir relegasie sal meeding. Suid-Afrika is tans 58ste op die Davisbeker-ranglys en Marokko 51ste. Die hoofbestuurder van Tennis Suid-Afrika, Anthony Moruthane, glo die tuisbaanvoordeel kan ‘n noemenswaardige verskil maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-937-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Die voorsitter van die Nelson Mandela-stigting, Naledi Pandor, het die Internasionale Nelson Mandela-dag-herdenkings met ‘n uitstalling by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York geopen. Die uitstalling se tema is, Ons gedeelde menswaardigheid in Aksie, en besin oor die rol van die VN se spesiale komitee tydens apartheid. Pandor lewer vandag die hoofrede tydens die amptelike herdenking, en sal wêreldwye solidariteit aanmoedig in ‘n tyd van oorlog en ongelykheid. Die herdenking sluit ook die toekenning van die vyfjaarlikse Nelson Mandela-prys aan twee wenners in vir hul diens aan die mensdom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….