Nuus 14:00
BULLETIN 16 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party eis Ramaphosa se bedanking teen Mandela-dag
# Amerika deporteer vyf geweldsmisdadigers na Eswatini
# En krieket: Die 43-jarige Jimmy Anderson gaan in The Hundred speel
# Die MK-party het ‘n ultimatum aan president Cyril Ramaphosa gestel en geëis dat hy teen Vrydag, op Mandela-dag, bedank. Die party het in ‘n brief gesê Ramaphosa se bedanking sal dien as ‘n teken van eerbied vir wyle voormalige president Nelson Mandela. Die party dreig met regstappe, ‘n mosie van wantroue en landwye verset-optrede. MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beskuldig die regering van nasionale eenheid dat hy die wil van die kiesers ondermyn en die ANC met geheime ooreenkomste in beheer hou.
# Die Referendum-party sê hy gaan die 22ste Wysigingswetsontwerp op die Grondwet formeel aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling voorlê. Die wetsontwerp stel dit dat rasgegronde beleid in beginsel onversoenbaar is met ‘n grondwetlike orde wat op nie-rassigheid gegrond is. Joan Swart van die party sê as dit aanvaar word, sal alle rasgegronde beleid en wetgewing onwettig word, en sê dit moes al lankal gebeur het:
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê die misdaad van volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en die misdaad van apartheid is nie ingewikkeld nie; dit is bloot onwettig. Hy het gepraat op die Haagse Groep se noodkonferensie in Colombië wat daarop gemik is om die volksmoord in Gaza te stop. Dangor sê die feit dat Israel besluite van die howe en die Verenigde Nasies sonder gevolge kan ignoreer, skaad die integriteit van internasionale reg:
# Amerika het vyf geweldsmisdadigers van Asiatiese en Karibiese lande na Eswatini gedeporteer. Hulle is burgers van Kuba, Jamaika, Laos, Viëtnam en Jemen. Die Departement van Binnelandse Veiligheid het in ‘n plasing op X geskryf hierdie misdadige onwettige vreemdelinge is so uniek barbaars dat hul vaderlande weier om hulle terug te neem. Hulle is skuldig bevind aan geweldsmisdade soos kinderverkragting en moord. Die Trump-administrasie verdedig deportasies na derde lande as nodig, aangesien hul lande van herkoms soms weier om hulle te aanvaar.
# Krieket: Die legendariese Engelse snelbouler, Jimmy Anderson gaan vanjaar vir Manchester Originals speel in The Hundred. Dit sal sy eerste deelname aan franchise-krieket wees na ‘n beroepsloopbaan van langer as 25-jaar. Anderson sal 43 wees wanneer die toernooi volgende maand begin. Hy was met sy uittrede verlede jaar die Engelse bouler met die meeste paaltjies ooit nadat hy 704 toetspaaltjies en 269 eendag-internasionale paaltjies platgetrek het. Sy voormalige spanmaat, Andrew Flintoff, se tienerseun, Rocky, sal vir Northern Superchargers speel waar sy pa hoofafrigter is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-290-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….