Nuus 14:00
BULLETIN 14 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum beskryf die kommissie van ondersoek na bewerings oor die polisie as politieke vertragingstaktiek
# Motorsport: Marc Marques vergroot sy voorsprong boaan die MotoGP-punteleer
# En Jane Goodall word vereer op Wêreld-sjimpanseedag
# Die Activists and Citizens Forum sê die kommissie van ondersoek na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings oor misdadige bedrywighede en korrupsie binne die polisie is ‘n politieke vertragingstaktiek om die waarheid te bedek. Die forum is daarteen gekant dat president Cyril Ramaphosa die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op verpligte verlof geplaas het en meen hy moet hom eerder afdank. Woordvoerder Dennis Bloem sê egter Ramaphosa is ruggraatloos, en eis sy onmiddellike bedanking:
Die IVP loof Ramaphosa egter vir sy optrede na hulle voorstel om ‘n kommissie van ondersoek in te stel om die wydlopende bewerings te ondersoek. Die party se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, het aan eNCA gesê dat dit ‘n saak is wat die tot hart van die openbare vertroue in die land se demokratiese instellings indring:
# Die elfjarige Jayden-Lee Meek se ma, Tiffany Nicole Meek, het vandag in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, verskyn op aanklag van die moord op haar seun. Die graad 6-leerder se gekneusde en gedeeltelik naakte liggaam is in Mei voor die gesin se huis in Fleurhof, Johannesburg, gevind, kort nadat sy ma hom as vermis aangemeld het. Landdros Ruby Mathyss het die saak tot Vrydag uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Die gemeenskap eis geregtigheid oor die jong seun se tragiese dood.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het sy voorsprong oor sy broer Álex tot 83-punte vergroot toe hy die Duitse Grand Prix gewen het. Dit is die Ducati-jaer se negende MotoGP-oorwinning op die Sachsenring in die 200ste wedren van sy loopbaan. Álex het die tweede plek opgeraap vir Gresini Racing met sy spanmaat Francesco Bagnaia derde. Brad Binder van Suid-Afrika was sewende op sy Red Bull KTM. Die volgende wedren, die Tsjeggiese Grand Prix, word die naweek gehou wanneer MotoGP na ‘n afwesigheid van vyf jaar na Brno terugkeer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-941-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreld-sjimpansee-dag en die Verenigde Nasies vereer Jane Goodall vir haar onvermoeide toewyding aan sjimpansees. Goodall het op hierdie dag in 1960 haar navorsing in die Gombe Nasionale Park in Tanzanië begin oor die belangrikheid van dié diere en die dringende behoefte om hulle en hul habitat te beskerm. Die VN sê ontbossing, onwettige jag en die vernietigende uitwerking van onwettige handel in troeteldiere laat die sjimpanseebevolking in die natuur afneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….