Nuus 14:00
BULLETIN 23 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kabinet is tevrede met die Padongelukkefonds se herstelstrategie
# Cosatu eis dringende optrede teen werkgewers wat versuim om bydraes aan pensioenfondse te betaal
# En, tennis: Nadal maak na verwagting sy laaste buiging by die Laverbekerkompetisie in September
# Die Kabinet is tevrede met die Padongelukkefonds se herstelstrategie wat groot verbeterings toon met die afhandeling van eise binne 120 dae, en ‘n afname van 75-persent in regskoste. Die strategie het ook mediese koste laat daal van 3,6-miljard-rand in die 2019/20-boekjaar tot 2,1-miljard-rand in 2023/24. Die Kabinet sê hy is ingelig oor die inwerkingstelling van die herstelstrategie vir die fonds. Dit is gemik op die vereenvoudiging van die stelsel, terwyl die administrasie van voordele en uitbetalings aan ongelukslagoffers ook verbeter word.
# Cosatu eis dringende optrede teen werkgewers wat versuim om bydraes te betaal wat verskuldig is aan werkers se pensioenfondse. Die federasie het die omvattende verslag van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor verwelkom oor die groot getal werkgewers in beide die privaat en die openbare sektor wat miljarde rand skuld. Matthew Parks van Cosatu sê meer as vier-duisend werkgewers, hoofsaaklik in die sekerheids-, skoonmaak-, metaal-, ingenieurs- en munisipale sektore, versuim maande en selfs jare om te betaal:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, het planne aangekondig vir die totstandkoming van ‘n sakeraad tussen Suid-Afrika en Egipte. Die raad is daarop gemik om geleenthede vir handel en belegging tussen die twee lande uit te brei. Pandor sê sy hoop om die privaat sektor en staatsbeheerde ondernemings aan te moedig om saam te werk. Sy sê dis noodsaaklik om die Afrika Kontinentale Vryhandelsooreenkoms ten volle te benut:
# Tennis: Die Spaanse veteraan Rafael Nadal het sy deelname vir Span Europa bevestig aan hierdie jaar se Laverbekerkompetisie. Dit word in September in Berlyn, Duitsland, gehou en sal na verwagting sy laaste toernooi wees voor hy uittree. Span Europa se kaptein, Björn Borg, beskryf Nadal as ‘n absolute legende van die sport en ‘n ware kampioen in elke sin van die woord. Dit sal Borg se laaste jaar as kaptein wees, met die voormalige Switserse meester Roger Federer wat genoem word as ‘n moontlike opvolgter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-147-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-298-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-3-sent per vat.
# En, Tshwane se gewese burgemeester, Murunwa Makwarela, is vanoggend na ‘n kort siekbed oorlede. Die 52-jarige Makwarela, wat die speaker was van Tshwane se raad, is in Februarie verlede jaar as burgemeester aangestel. Hy het regsprobleme gehad na die onthulling van insolvensie in 2016, wat hom ongeskik gemaak het vir ‘n openbare pos. Makwarela het verlede week in die Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn, waar hy nie die bedrogsaak teen hom van die rol geskrap kon kry nie. Tshwane se speaker, Mncedi Ndzwanana, bring hulde aan Makwarela:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….