Nuus 14:00
BULLETIN 10 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien strafregtelike klagtes in teen die minister van Polisie
# Die Pakistanse polisie keer 149 mense aan tydens ‘n klopjag op ‘n swendel-oproepsentrum
# En rugby: Twee veranderings aan die All Blacks se opdrafspan vir die tweede toets teen Frankryk
# Die DA het strafregtelike klagtes teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu, ingedien by die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie. Die party beskuldig hom daarvan dat hy vir die Parlement gelieg het oor sy bande met die sakeman Brown Mogotsi, wat met misdaadnetwerke verbind word, en sê dit kom neer op regsverydeling. Dianne Kohler Barnard van die DA sê niemand – nie eens kabinetslede – is verhewe bo die wet nie:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het onthul hy het in die afgelope boekjaar boetes van byna 120-miljoen-rand opgelê. Dit is ‘n afname ná die vorige jaar en word toegeskryf aan die feit dat grootskaalse bedrogsake, soos dié van Steinhoff, afgehandel is. Die finansiële waghond het voortgesette pogings uitgelig om mark-integriteit te versterk en verbruikers binne Suid-Afrika se finansiële sektor te beskerm. Die kommissaris, Unathi Kamlana, sê die owerheid streef daarna om sy prosesse te verbeter:
# Die Pakistanse polisie het 149 mense, insluitende 71 buitelanders, in ‘n swendel-oproepsentrum aangekeer. Wetstoepassers sê hulle het opgetree na ’n wenk oor die netwerk wat uit die stad Faisalabad werk. Die klopjag was by die woning van die voormalige hoof van die stad se kragnetwerk, Tasheen Awan. Die aangehoudenes sluit 78 Pakistani’s en 48 Chinese burgers in, asook mense uit Nigerië, die Filippyne, Sri Lanka, Bangladesj, Zimbabwe en Mianmar.
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Scott Robertson, moes twee veranderinge maak aan sy opdrafspan vir Saterdag se tweede toets teen Frankryk in Wellington. Patrick Tuipulotu vervang kaptein Scott Barrett, wat op die kantlyn is weens ‘n geskeurde kuitspier, terwyl Caleb Clarke instaan vir Sevu Reece wat in die eerste toets harsingskudding opgedoen het. Die All Blacks het dié toets 31-27 gewen. Onderkaptein Ardie Savea sal die span lei. Robertson sê hy het baie respek vir die Franse afrigter, Fabien Galthié:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-51-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-38-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Nasionale VIGS-raad en UNAIDS stel vandag die bygewerkte Wêreld VIGS-verslag by die Bertha Gxowa-hospitaal in Johannesburg bekend. Die verslag met die titel AIDS, Crisis and the Power to Transform, waarsku dat die vermindering van skenkerbefondsing, veral deur Amerika, dekades se vooruitgang bedreig. Die verslag beklemtoon dat byna 40-miljoen mense wêreldwyd met MIV leef, met 4,4-miljoen kinders wat sedert 2000 beskerm word. UNAIDS waarsku oor ses-miljoen nuwe besmettings en vier-miljoen sterftes teen 2029 indien daar nie dringend opgetree word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….