Nuus 14:00
BULLETIN 9 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solomon Makgato word aangestel as waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie
# Sekerheid word verskerp by die KwaZulu-Natalse kommissaris se huis in Durban na doodsdreigemente
# En rugby: Die All Blacks se kaptein gaan die laaste twee toetse teen Frankryk misloop
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die hoof van die Valke in die Wes-Kaap, Solomon Makgato, as waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie aangestel. Dit volg op die inhegtenisneming van Dumisani Khumalo en ses ander verlede maand weens bewerings van bedrog. Masemola sê die polisie het volle vertroue in Makgato en vertrou dat sy leierskap doeltreffendheid sal verbeter en tot bestendigheid binne misdaadintelligensie sal lei:
Masemola sê ook sekerheidsmaatreëls is verskerp by die huis van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, in Durban ná doodsdreigemente. Mkhwanazi het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskuldig van regstreekste inmenging met ondersoeke na politieke sluipmoorde en georganiseerde misdaad deur die elite politieke moord-taakspan te ontbind. Masemola sê hy het nooit opdrag gegee om die taakspan te ontbind nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê Amerika se aangekondigde handelstariewe van 30-persent het waarskynlik ‘n onderliggende geopolitieke motivering en is ‘n regstreekse aanval op die ekonomiese voordele wat AGOA vir Suid-Afrika inhou. Jaco Mulder van die party sê die tariewe is ook ‘n reaksie op Suid-Afrika se groeiende diplomatieke en ekonomiese bande met lande wat deur Amerika as uitgeworpenes of teenstanders beskou word:
# Die burgerlike verdedigingsagentskap van Gaza sê 20 mense, insluitende ses kinders, is dood in twee Israelse lugaanvalle. Die Israelse Weermag stel ondersoek in. Die aanvalle het plaasgevind nadat die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, en die Amerikaanse president, Donald Trump, in Washington gepraat het oor die deurlopende veldtog om Hamas in Gaza te verslaan. Nethanyahu het Israel se doelwitte herbevestig om die vrylating van alle gyselaars te verseker wat tydens die Palestynse militante se aanvalle op 7 Oktober 2023 ontvoer is, asook die uitskakeling van sy militêre en regeringsbevoegdhede.
# Rugby: Die All Blacks se kaptein, Scott Barrett, gaan die oorblywende twee toetse teen Frankryk misloop nadat hy in die eerste wedstryd beseer is. Hy is in Dunedin van die veld af toe Nieu-Seeland 31-27 gewen het. Wêreldrugby se speler van die jaar in 2023, Ardie Savea, sal die span aanvoer. Hulpafrigter Scott Hansen sê Barrett se afwesigheid is ‘n groot verlies, maar hy vertrou die diepte in die groep. Die tweede toets word Saterdag in Wellington gespeel en die laaste een volgende naweek in Hamilton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-815-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-288-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….