Nuus 14:00
BULLETIN 8 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vrae word gevra oor Mkhwanazi se moontlike terugkeer as KwaZulu-Natalse polisiekommissaris vir ‘n tweede termyn
# Minister Steenhuisen lê ‘n begroting ter tafel vir ‘n inklusiewe, klimaatslim landbousektor
# En motorsport: ‘n Moontlike promotor word gekies vir Suid-Afrika se bod om weer ‘n Formule Een Grand Prix aan te bied
# Politieke ontleders bevraagteken of die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ‘n tweede termyn sal dien wanneer sy ampstermyn binnekort tot ‘n einde kom. Dit volg na verdoemende bewerings wat hy oor senior polisiebeamptes, politici en lede van die regbank gemaak het. Die bewerings, wat ook die minister van Polisie, Senzo Mchunu, betrek, het gelei tot ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel. Mkhwanazi word wyd geloof vir sy pogings om die oplossing van misdaad in die provinsie te verbeter,
Die vakbond GIWUSA sê intussen Mchunu moet nog vandag geskors en strafregtelik ondersoek word vir regsverydeling en die beskerming van sindikate. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê Mkhwanazi se plofbare onthullings lig nie net die sluier oor ongerymdhede nie, maar ook oor die ingewortelde, georganiseerde en misdadige aard van die polisie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê samewerking met die privaat sektor en nie staatsbeheer nie, sal die volle potensiaal van die landbousektor ontsluit. Hy het die departement se begroting in die Parlement ter tafel gelê en planne uiteengesit om ‘n klimaatslim, jeuggedrewe en inklusiewe voedselstelsel te bou. Steenhuisen sê belangrike ingrypings sluit in ‘n nuwe biosekerheidsrsraad om siekte-uitbreking te bestuur, uitgebreide voedseltuine en opleiding van boere om hongerte te bekamp sowel as nuwe handelstrategieë om uitvoere te bevorder:
Sitrusboere in Suid-Afrika probeer intusssen om hul oorsese markte te vergroot om die land se volle uitvoerpotensiaal te benut. Die uitvoerende hoof van die Sitrusprodusentevereniging, Boitshoko Ntshabele, sê onderhandelings word reeds gevoer met Japan, Suid-Korea en Saoedi-Arabië om nuwe markte te bekom. Suid-Afrika, as die wêreld se tweede grootste sitrusuitvoerder na Spanje, verdien 34-miljard-rand in buitelandse valuta en ondersteun meer as 140-duisend werksgeleenthede op plase. Ntshabele het aan SABC News gesê regerings-ondersteuning bly deurslaggewend vir toegang en groei:
# Motorsport: Suid-Afrika se Formule Een-reëlingskomitee het die keuse van ‘n moontlike promotor afgehandel terwyl die land sy bod voorberei vir sy eerste Grand Prix sedert 1993. Die komitee sê die keuse is gemaak na ‘n gestruktureerde en regverdige veelfasige proses. Een van die vereistes vir suksesvolle registrasie was ‘n volledig-terugbetaalbare deposito van tien-miljoen-rand. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die aangewese promotor kan nie bekend gemaak word nie, aangesien verskeie prosesse en verpligtinge nog nagekom moet word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-616-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….