Nuus 14:00
BULLETIN 4 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad bied ‘n beloning van 100-duisend-rand aan om Mitchells Plain-skieters vas te trek
# Bek-en-klouseer-uitbrekings lei tot paniekaankope en skerp vleisprysstygings
# En, die DA sê meer as twee-miljoen begunstigdes kan sonder toelaes wees wanneer SASSA/Postbank ooreenkoms verstryk
# Die Stad Kaapstad bied ‘n beloning van 100-duisend-rand aan vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en vervolging van persone wat verantwoordelik is vir ‘n massaskietery in Mitchells Plain. Tien mense is Donderdag in drie afsonderlike voorvalle in Beacon Valley geskiet met drie wat noodlottig gewond was. Nog twee mense is in Tafelsig en die sentrale sakekern dood. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die onlangse skietvoorvalle is ‘n regstreekse bedreiging vir die veiligheid en welstand van gemeenskappe:
# Bek-en-klouseer-uitbrekings by groot beesvoerkrale, insluitend Karan Beef naby Heidelberg in Gauteng, het paniekaankope veroorsaak en rooivleispryse landwyd opgestoot. Kleinhandelaars rapporteer ‘n jaar-tot-jaar-styging van 20-persent, met biefstuk wat met 4,5-persent gestyg het en maalvleis met 1,7-persent in Mei. Volgens News24 is uitvoere na China en die Europese Unie gestaak, en streng bewegingsbeperkings beperk voorraad. Owerhede doen ‘n beroep op kalmte terwyl pogings voortduur om die uitbreking te beperk en Suid-Afrika se vleisvoorsieningsketting te bestendig.
# Alexandra Abrahams van die DA sê meer as twee-miljoen begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sal moontlik teen Oktober 2025 nie hulle toelaes ontvang nie, as die Openbare Beskermer se waarskuwing korrek is. Die Openbare Beskermer het ondersoek ingestel oor aantygings van onnodige vertraging deur SASSA en die onreëlmatige aanstelling van die voormalige SASSA uitvoerende hoof, Busisiwe Memela-Khambula. Abrahams sê die DA het gevra dat SASSA, Postbank, en die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank dringend aan die Parlement verslag moet doen:
# Rusland het oornag sy grootste hommeltuig- en missielaanval ooit op Oekraïne uitgevoer, enkele ure nadat ‘n telefoonoproep tussen die Amerikaanse en Russiese presidente ‘n dooiepunt bereik het. AFP-joernaliste in die hoofstad kon die hommeltuie in Kiëf se lugruim en ontploffings wat weergalm, hoor, terwyl Oekraïense lugverdedigingstelsels die aanval afgeweer het. President Donald Trump het gesê hy het geen vordering met Vladimir Putin gemaak om die oorlog te beëindig nie, want die Kremlin is vasbeslote dat Rusland sy oorlogsdoelwitte sal nastreef.
# Rugby: Frankryk se afrigter, Fabian Galthie, het agt nuwelinge in sy span ingesluit vir môre se eerste toets teen die All Blacks in Dunedin. Hulle sluit in die Bloemfonteins-gebore heelagter Jacobus van Tonder, die vleuel Tom Spring, die losskakel Joris Seconds en die stut Giorgi Beria. Die ervare senter Gael Fickou sal Frankryk in sy 95ste toets aanvoer, terwyl die veteraanstut Rabah Slimani die eerste keer sedert Oktober 2019 na toetsrugby terugkeer. Die tweede toets vind volgende Saterdag in Wellington plaas en die laaste een die 19de in Hamilton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-005-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….