Nuus 14:00
BULLETIN 30 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sal nie swig onder druk om ‘n mosie van wantroue teen Ramaphosa te steun nie
# Masemola verwelkom die inhegtenisneming van twee vermeende huurmoordenaars in die Fort Hare-lyfwagmoordsaak
# En die Dalai Lama sal sy opvolgplan bekendstel terwyl China aandring dat hý sy opvolger sal aanwys
# ActionSA sê hy sal nie deur ander partye beïnvloed word om te besluit of hy ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa sal steun of nie. Die party is lankal bekommerd oor Ramaphosa se leierskap, maar sal sy eie besluit neem indien so ’n mosie ingedien word. Athol Trollip van ActionSA sê die party bly ‘n opbouende opposisie in die Parlement en is steeds toegewyd tot goeie regering, veral in Tshwane:
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola verwelkom die inhegtenisneming van twee vermeende huurmoordenaars in verband met die moord op die visekanselier van Fort Hare, Sakhele Buhlungu, se lyfwag, Mboneli Vesele. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê Bafana Chiliza en Nkosiyazi Maphumulo is in Johannesburg aangekeer. Vesele is in Januarie 2023 voor Buhlungu se huis in Alice in die Oos-Kaap doodgeskiet. Mathe bevestig dit bring die aantal inhegtenisnemings op twaalf te staan:
# Die Dalai Lama sal na verwagting hierdie week opvolgbesonderhede bekend maak tydens ’n groot godsdienstige byeenkoms in Dharamsala voor sy 90ste verjaarsdag. Meer as 100 Boeddhiste leiers sal die geleentheid bywoon, waar gebede vir sy lang lewe en die opvolgingsplanne aandag sal kry. China, wat hom as ’n separatis beskou, dring aan dat hý sy opvolger sal aanwys. Die verbanne Tibetaanse leier het sy volgelinge aangemoedig om enige opvolger wat deur Beijing aangewys word, te verwerp, en gesê sy opvolger se geboorteland sal buite China wees.
# Krieket: Pakistan het die voormalige veelsydige speler, Azhar Mahmood, aangewys as tussentydse hoofafrigter van die toetsspan. Die 50-jarige is die vierde man om die pos in die laaste 18-maande in te neem en sal tot Januarie aanbly. Mahmood het as ‘n snelbouler en veelsydige speler 143 eendagwedstryde en 21 toetse vir Pakistan gespeel en is sedert verlede jaar hulp-afrigter. Hy vervang Aaqib Javed, wat tussentydse afrigter was vir die toetsreeks in Suid-Afrika in Desember en Januarie en tuis teen die Wes-Indiese Eilande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-556-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die jongte huishoudelike bekostigbaarheidsaanwyser wys dat die prys van basiese belasting-vrye voedsel steeds styg, met nul-koersvoedsel wat die afgelope jaar 4,1-persent duurder geword het. Volgens die aanwyser het die koste van die huishoudelike kosmandjie gestyg van twee-duisend-775-rand per maand tot twee-duisend-889-rand. Pryse van stapelvoedsel soos mieliemeel, rys en kookolie het gestyg. Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group waarsku dat brandstof-prysverhogings druk sal plaas op huishoudelike begrotings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….