Nuus 14:00
BULLETIN 7 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof wys Mapisa-Nqakula se aansoek van die hand
# Die Hugenote-tonnel is weer oop nadat sterk wind verkeer ontwrig het
# En krieket: ‘n Sterk Australiese groep word aangewys vir die toetsreeks in Suid-Afrika
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se aansoek om ontslag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet van die hand gewys. Sy staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Mapisa-Nqakula het na bewering omkoopgeld van 4,5-miljoen-rand van die Weermagkontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu ontvang terwyl sy minister van Verdediging was. Regter Mashudu Munzhelele het bevind die staat het voldoende getuienis voorgelê:
# DA-leier Geordin Hill-Lewis sê sukkelende metro’s sal eers hul geldsake en basiese dienste moet herstel voor groter infrastruktuurprojekte aangepak kan word, insluitend die regmaak van slaggate, straatligte en verkeersligte. Hy het aan die SABC gesê grootskaalse infrastruktuur-herstelwerk sal miljarde-rand kos. Die DA werf intussen kiesersteun in metros soos Johannesburg, Kaapstad, Nelson Mandelabaai en eThekwini. Hill-Lewis sê die herstel van vertroue kan ondernemings, beleggings en groei na die eiendomsmark lok:
# Motoriste wat reis tussen Kaapstad en die Kaapse Wynland kan weer deur die Hugenote-tonnel ry nadat dit vir alle voertuie heropen is. Die tonnel op die N1 is Vrydag gesluit weens sterk wind voor dit Saterdag slegs vir ligte voertuie heropen is. Die Wes-Kaapse regering het bevestig beperkings op swaar voertuie, woonwaens en sleepwaens is nou opgehef. Die nabygeleë Du Toitskloofpas bly egter gesluit en die Bainskloofpas is slegs vir Klas 1-voertuie oop.
# Die vakbond GIWUSA vra die regering om dringend ‘n omvattende nasionale klimaatnoodvoorbereidingsplan te publiseer oor die uitwerking van die komende Super El Niño. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku Suid-Afrika sal na verwagting hierdie lente ‘n ondergemiddelde reënval en bogemiddelde temperature ervaar, namate ‘n sterk El Niño-verskynsel in die Stille Oseaan ontwikkel. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê hittegolwe sal verdamping versnel en die vraag na water verhoog:
# Krieket: Australië het ‘n sterk groep van 16 spelers aangekondig vir volgende maand se reeks van drie toetse in Suid-Afrika. Kaptein Pat Cummins, Josh Hazlewood, Mitchell Starc en Nathan Lyon sal die boul-aanval lei, terwyl Steve Smith die kolwers lei. Die kolwer Marnus Labuschagne, wat tans nie op dreef is nie, het sy plek behou, terwyl Cooper Connolly, Michael Neser en Matthew Kuhnemann ook ingesluit is. Australië se toetsspan keer die eerste keer na Suid-Afrika terug ná die omstrede skuurpapier-skandaal van 2018.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-416-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-397-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….