Nuus 14:00
BULLETIN 24 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se burgemeester sê munisipaliteite het plekke van wanhoop geword
# Israel beveel aanvalle op Teheran nadat Iran die wapenstilstand verbreek
# En rugby: Nog All Blacks sluit by die Barbarians aan vir Saterdag se wedstryd teen die Bokke
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê die veelparty-koalisieregering keer die metro om wat eens ‘n plek van wanhoop was. Sy sê hulle het in net meer as sewe maande Tshwane se eerste volledig-befondste begroting aanvaar gekry wat die metro op die pad na ekonomiese herstel plaas. Moya sê elke metro en dorp in Suid-Afrika verdien leierskap wat eties, beslissend en aanspreeklik is:
Die GOOD-party vra intussen groter deursigtigheid in munisipale oorsig en waarsku teen die wanvertolking van oudit-uitkomste. Die party het deelgeneem aan ʼn hoëvlak-dialoog met ander politieke partye as deel van die voortgaande hersiening van 1998 se Witskrif oor Plaaslike Regering. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê wanfunksionering kom selfs voor in munisipaliteite met skoon oudits. Hy vra hervorming om te verseker Munisipale Openbare Rekeningekomitees is oop vir die publiek:
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, het die Leër opdrag gegee om te reageer op Iran se verbreking van die skietstilstand nadat die Weermag inkomende Iranse missiele aangemeld het. Hy sê die Weermag het opdrag om kragtige aanvalle teen regime-teikens in die hartjie van Teheran uit te voer. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n gefaseerde wapenstilstandsproses van 24-uur aangekondig, met Israel wat daartoe ingestem het. Iran het nie die wapenstilstand formeel aanvaar nie, maar ontken dat missiele afgevuur is nadat die verposing in werking getree het.
Trump en sy Oekraïense ampsgenoot, Volodimir Zelensky, beplan intussen om môre tydens die NAVO-beraad in Den Haag, Nederland, te vergader. ‘n Senior bron in Oekraïene se Presidensie het aan AFP gesê die bespreking sal fokus op die land se aankoop van ‘n verdedigingspakket, wat ‘n groot aantal lugverdedigingstelsels insluit. Verdere sanksies teen Rusland sal ook bespreek word. Zelensky was ‘n sentrale figuur tydens onlangse beraadsittings, maar is weens sy wankelrige verhouding met Trump nie genooi na NAVO-lede se hoofbespreking nie.
# Rugby: Agtien ervare toetsspelers van dwars oor die wêreld het aangemeld by die Barbarians vir Saterdag se wedstryd teen die Springbokke in Kaapstad. Die 23 spelers sluit die gewese Junior Springbokslot Ruben van Heerden van die Stormers in. Die span, wat deur Robbie Deans afgerig word, gaan die Bokke die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem pak. Nog vyf ervare All Blacks het by die groep aangesluit. Hulle is Hoskins Sotutu, Tawera Kerr-Barlow, Peter Umaga-Jensen, Leicester Fainga’anuku en Mark Tele’a.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-279-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….