Nuus 14:00
BULLETIN 21 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Masemola vra inklusiewe hervorming van plaaslike regeringsbefondsing
# Die DA verwerp die Poskantoor se geheime reddingsplan van 3,8-miljard-rand
# En Rusland veroordeel die Amerikaanse aanvalle op Iran
# Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Namane Masemola, sê dis noodsaaklik om die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1998 te hersien, aangesien munisipaliteite worstel met vervalle infrastruktuur en dalende inkomste. Hy het in Midrand, Gauteng, uitgelig dat verouderde befondsingsmodelle nie meer voldoen aan gemeenskappe se behoeftes nie, veral in digbevolkte gebiede met landelike kenmerke. Masemola sê ‘n nuwe, inklusiewe benadering tot befondsing word benodig om by moderne werklikhede aan te sluit, dienslewering te verbeter en munisipale vermoë te versterk:
# Die DA sê verwerp ten sterkste die Suid-Afrikaanse Poskantoor se versoek om sy sakereddingsplan ter waarde van 3,8-miljard-rand agter geslote deure te mag voorlê. Die party sê dis ‘n skande dat die Poskantoor, wat reeds deur belastingbetalers ondersteun word, geheimhouding vra terwyl sakereddingspraktisyns reeds ses-miljoen-rand per maand verdien. Die DA-lid, Nico Pienaar, sê hulle is sedert 2023 reeds meer as 240-miljoen-rand betaal, sonder enige tekens van ‘n werklike ommeswaai:
# Rusland sê hy veroordeel en betreur die naweek se Amerikaanse aanvalle op Iranse kern-aanlegte. Die Russiese president, Vladimir Putin, is van plan om Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, in Moskou te ontmoet. Israel voer intussen ongehoorde aanvalle uit op wat beskryf word as agentskappe van regeringsonderdrukking in die Iranse hoofstad, Teheran. Die Europese Unie se top-diplomaat, Kaja Kallas, waarsku ook dit sal uiters gevaarlik wees indien Iran die belangrike handelsroete deur die Straat van Hormuz sluit weens die aanvalle. Ongeveer 20-persent van die wêreld se olie gaan deur hierdie seeroete.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, is die oorweldigende gunsteling om sy Wimbledon-titel te behou nadat hy gister die Queens-toernooi in Londen gewen het. Sy oorwinning oor Jiri Lehecka van die Tsjeggiese Republiek was sy 18de agtereenvolgende een. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, wat as Alcaraz se grootste bedreiging op die All England Club beskou word, het gesukkel met die oorgang van klei na gras en het vroeg in die Halle Ope in Duitsland verloor teen die uiteindelike kampioen, Alexander Bublik van Kazakstan. Wimbledon begin volgende Maandag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-442-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee het ‘n voorstel verwerp om Swahili ‘n amptelike taal te maak, en sê dis ‘n beleidsaangeleentheid en nie ‘n grondwetlike wysiging nie. Die voorstel om alle Hoofstuk 9-instellings in een liggaam saam te smelt, is ook verwerp. Die komitee het bevind hierdie nalatenskapvoorstelle uit 2023 val buite die komitee se grondwetlike mandaat. Komiteelid Sibonelo Nomvalo sê die wysiging van Artikel 25 om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat, word steeds oorweeg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….