Nuus 14:00
BULLETIN 19 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana vra volledige openbare befondsing van politieke partye om demokrasie te beskerm
# ‘n Geel vlak-twee waarskuwing word uitgereik vir die Wes-Kaapse kus
# En lande onttrek hulle burgers aan Israel en Irak
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê gapings in die handhawing van die Wet op die Befondsing van Politieke Partye ondermyn steeds die demokratiese stelsel. Hy het op die Verkiesingskommissie se simposium oor politieke befondsing in Durban gesê die huidige stelsel dwing partye om te veel op skenkers staat te maak, wat die deur ooplaat vir korrupsie en oormatige privaat invloed. Godongwana vra volle openbare befondsing van politieke partye om privaat invloed te verminder en regverdige verkiesings te verseker:
TERUGAANKONDIGING: Hierdie verslag is aangebied deur die Nasionale Persklub
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale wetgewer se voorsittende beamptes weier aanspreeklikheid deur premier Panyaza Lesufi en sy uitvoerende gesag te beskerm teen vrae oor diensleweringskwessies. Die beamptes laat nie vrae toe oor e-tolstelsels, leefstyloudits, ekonomiese ontwikkeling en geslagsgeweld nie. Mike Moriarty van die DA sê inwoners verwag aanspreeklikheid van hulle regering:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak-twee waarskuwing uitgereik vir ontstuimige see in die Wes-Kaap. Deinings kan tot Saterdagoggend gevaarlike hoogtes bereik vanaf Saldanhabaai aan die Weskus tot by Plettenbergbaai aan die Suidkus. Inwoners word aangemoedig om see-bedrywighede te vermy weens die gevaar dat kleiner vaartuie kan omslaan, kuslyn-ontwrigting en vernietiging van strande. Die bemannings van kleiner vaartuie word aangeraai om skuiling te soek in hawens, baaie en inhamme.
# Regerings reg oor die wêreld is besig om duisende van hul burgers wat vasgekeer is in die vinnig verslegtende konflik tussen Israel en Iran te ontruim – met busse, per vliegtuig en in sommige gevalle selfs per voet oor die grense. Buitelanders probeer reeds sedert verlede week om albei lande inderhaas te verlaat nadat Israel Vrydag bomaanvalle begin het teen Iran se kern- en militêre aanlegte. Teheran het daarna teenaanvalle uitgevoer. Israel se lugruim is gesluit en talle mense word deur buurlande ontruim te midde van hewige missielaanvalle tussen die twee lande.
# Sokker: Engeland se Sokkervereniging het Chelsea se vleuel, Mykhailo Mudryk, aangekla van die oortreding van teen-opkikkerregulasies en hy kan vir tot vier jaar geskors word. Die 24-jarige is in Desember voorlopig geskors nadat hy ‘n opkikkertoets gedop het terwyl hy die vorige maand vir Oekraïne in Albanië en Georgië gespeel het. Mudryk hou vol hy is onskuldig en sê sy monster was besmet. Hy het sedert 28 November nog nie weer vir Chelsea uitgedraf nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-64-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….