Nuus 14:00
BULLETIN 19 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Proteas kry kontantaansporings na hull geskiedkundige IKR-toetsoorwinning
# Inflasie bly bestendig op 2,8-persent in Mei
# En die vyandighede tussen Israel en Iran vererger
# Ons begin met goeie krieketnuus: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê gesprekke is aan die gang om kontantaansporings aan die Protea-manspan te betaal na hul geskiedkundige Wêreldtoetskampioenskaps-oorwinning oor Australië. Die Proteas se oorwinning op Lord’s in Londen het ‘n titeldroogte van 27-jaar beëindig. McKenzie was onder die duisende mense wat die kampioene vanoggend op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng verwelkom het. Hy het die span se karakter geprys en vertroue uitgespreek om 2027 se kampioenskap suksesvol aan te bied en te wen:
# Statistiek Suid-Afrika sê inflasie het verlede maand onveranderd gebly op 2,8-persent ondanks stygende voedselpryse. Die grootste faktor was ‘n verhoging van 1,1-persent in voedselpryse en nie-alkoholiese drankies. Die prys van beesvleis styg steeds as gevolg van die bek-en-klouseer-uitbreking, met biefstukpryse wat in Mei met 4,5-persent gestyg het. Ricado Johnson van Statistiek SA sê mieliemeel en groente het noemenswaardige stygings getoon, met beet wat op ‘n jaargrondslag met 64-persent gestyg het:
# Suid-Afrika se gesondheidsorgsektor word toenemend deur kuberaanvalle bedreig. Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste is ‘n onlangse slagoffer van ‘n losprys-aanval. ‘n Regskenner, Safia Mahomed, het in ‘n onderhoud met Moneyweb gesê dringende hervormings is nodig, insluitend strenger bestuur, etiese regulering van kunsmatige intelligensie en beter infrastruktuur. Die gesondheidsorgsektor verteenwoordig 32-persent van die uitlekgevalle van data landwyd tussen 2015 en 2022, terwyl kuberaanvalle op Afrika se gesondheidsinstellings in 2023 met 30-persent gestyg het.
# Israel sê hy het vandag ‘n kernaanleg naby Teheran aangeval, terwyl Iran sê hy het hipersoniese missiele afgevuur. Kort nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, geëis het dat Iran oorgee, het die opperleier, ajatollah Ali Khamenei, beloof sy land sal geen genade toon teenoor Israel se leierskap nie. Trump hou vol Amerika het geen rol gespeel in sy bondgenoot se bomveldtog nie, maar waarsku dat sy geduld begin opraak. Die gewelddadige, volgehoue aanvalle het Vrydag begin toe Israel ‘n reuse-bomveldtog geloods het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-574-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Dis vandag Internasionale Piekniekdag en die ideale dag om ‘n piekniekmandjie te pak en saam met familie of vriende in die buitelug te eet. Alhoewel daar geen rekord is oor die oorsprong van die dag nie, het dit vermoedelik teen die einde van die Franse Revolusie en die Victoriaanse tydperk ontstaan. Volgens die Guinness Book of World Records is die wêreld se grootste piekniek op 20 Junie 2009 in Lissabon, Portugal, gehou. Meer as 22-duisend mense het dit bygewoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….