Nuus 14:00
BULLETIN 17 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF betreur die dood van 12 van sy lede in KwaZulu-Natal ná ‘n Jeugdag-byeenkoms
# Die VF Plus verwelkom gepubliseerde riglyne vir die instelling van Bela-wet
# En minstens 50 mense sterf in ‘n Israelse aanval op ‘n hulpsentrum in Gaza
# # Die EFF het sy diepe meegevoel betuig na die dood van 12 van sy lede in vanoggend se botsing naby Vryheid in KwaZulu-Natal. Die slagoffers was op pad terug van die party se 16 Junie-byeenkoms in Umlazi. Die EFF beskryf hulle as revolusionêre helde wat die nalatenskap van 1976 se jeug vereer het. Verskeie mense is beseer en ontvang mediese sorg. Woordvoerder Thembi Msane sê die party werk saam met owerhede om die slagoffers te identifiseer:
# Die Vryheidsfront Plus het die gepubliseerde riglyne vir die instel van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette verwelkom, aangesien dit die ernstigste risiko’s wat die BELA-wet inhou, gedeeltelik verminder. Die woordvoerder, Wynand Boshoff, sê die riglyne beperk die provinsiale departementshoof se gesag om in te meng met skole se taal- en toelatingsbeleid, maar gee nie ten volle aandag aan al die bekommernisse rakende die wet nie:
# Gaza se burgerlike verdedigingsagentskap sê Israelse magte het vandag minstens 50 mense gedood naby ‘n hulpverspreidingsperseel in Khan Yunis in die suide van die gebied. Die woordvoerder, Mahmoed Bassal, het aan AFP gesê meer as 200 mense is gewond toe duisende Palestyne bymekaargekom het om meel te gaan haal by ‘n liefdadigheids-hulpsentrum. Hy sê Israelse hommeltuie het die burgers geteiken en ‘n paar minute later is verskeie handgranate op hulle afgevuur vanuit tenks. Die Israelse Leër het aan AFP gesê die voorval word ondersoek.
# Motorsport: Thailand het vandag ‘n stap nader gekom om ‘n Formule Een-wedren in die strate van Bangkok aan te bied met die kabinet se amptelike goedkeuring om ‘n bod in te dien. As dit suksesvol is, sal die Thaise hoofstad wedrenne vanaf 2028 tot ’32 aanbied. Eerste minister Paetongtarn Shinawatra het al verskeie vergaderings met F1 se uitvoerende hoof, Stefano Domenicali, gehou, insluitend verlede maand in Monaco, die tuiste van die sport se beroemdste straatwedren.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-87-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-46-sent per vat.
# En laastens, die Nasionale Seereddingsinstituut moedig Suid-Afrikaners aan om Saterdag op wintersonstilstandsdag ‘n ysbad te neem in die see of in ‘n bak ysige water, as ‘n simboliese uitdaging om lewensreddingspogings te ondersteun. Dit is ook die langste nag van die jaar. Die geleentheid samel geld in vir reddings, swemopleiding en onderrig oor waterveiligheid. Van vrywilligers by die kus tot binnelandse ondersteuners, word almal aangemoedig om die ysige sprong te doen en hierdie winter ‘n verskil te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….